Nuus 18:00
BULLETIN 23 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party versoek die CR17-bankstate moet oopgemaak en die Phala Phala-verslag gedeklassifiseer word
# Kaapstadse leerders kry borgtog in boelie-saak
# En koning Charles en pous Leo bid saam in die Vatikaan
# Die MK-party vra die Konstitusionele Hof om president Cyril Ramaphosa se CR17-bankstate oop te maak en vir die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat om die Phala Phala-verslag te deklassifiseer. Die party se nasionale voorsitter, Nathi Nhleko, sê Suid-Afrikaners verdien om die volle waarheid te weet oor Ramaphosa se finansiële transaksies en beweerde wangedrag op sy wildplaas in Limpopo. Nhleko beloof hulle sal alle parlementêre en wettige middele gebruik om verantwoordbaarheid en geregtigheid te verseker:
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, het bevestig dat hy die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala ontmoet het. Hy het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê Matlala het hom genader om privaat sekerheids-vervoerdienste aan te bied nadat Cele die regering verlaat het. Cele hou vol dat hy hom nie persoonlik ken nie. Hy het Matlala beskryf as ‘n koel kêrel wat nie buitengewoon gelyk het nie totdat berigte oor sy sakebedrywighede opgeduik het:
# Agt leerders van Milnerton High School wat verbind word aan ‘n boelie-voorval, het in die Kaapstadse Landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Twee minderjariges is in die Jeughof op waarskuwing vrygelaat. Borgtog van twee-duisend-rand elk is aan die ander ses toegestaan onder streng voorwaardes, insluitend geen kontak met klaers of getuies nie, en hulle is verbied op die skoolterrein. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak is uitgestel tot 20 Januarie sodat hulle eksamen kan skryf. Hul identiteite word beskerm.
# Rugby: Australië het 13 veranderinge aangebring en Nick Champion de Crespigny as kaptein aangewys vir Saterdag se toets teen Eddie Jones se Japanse span in Tokio, waarmee hulle toer van vyf toetse afskop. Afrigter Joe Schmidt se manne reis daarna na Europa vir toetse teen Engeland, Italië, Ierland en Frankryk. Champion de Crespigny is in slegs sy derde toets as kaptein aangewys nadat hy sy buiging in Julie gemaak het teen die Britse en Ierse Leeus. Die 29-jarige vorm die lostrio saam met Carlo Tizzano en Rob Valetini.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-99-sent per vat.
# En laastens, koning Charles het vandag die eerste hoof van die Anglikaanse Kerk geword om in die openbaar saam met ‘n pous te bid. Die diens is in die Sistynse Kapel in die Vatikaan gehou, gelei deur pous Leo en uitgesaai deur die Vatikaan se amptelike nuusdiens. Dit het plaasgevind tydens die 76-jarige Charles en koningin Camilla se staatsbesoek. Dit is die eerste keer dat ‘n regerende Engelse of Britse monarg in die openbaar saam met ‘n pous bid sedert Henry die Agtste se paaie 500-jaar gelede met Rome geskei het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….