Nuus 18:00
BULLETIN 21 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu weier om kommentaar te lewer oor die stand van die taakspan vir politieke moorde
# ‘n Gladde begin vir Gauteng se matriekeksamen ondanks geringe haakplekke
# En krieket: Australië is bekommerd oor haar kaptein se beskikbaarheid vir die res van die Wêreldbekertoernooi
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Parlement gesê hy sal nie kommentaar lewer oor die huidige stand van die taakspan vir politieke moorde nie, aangesien hy nie meer die amp beklee nie. Hy sê riglyne wat hy in Desember 2024 uitgereik het, is steeds onder bespreking en die taakspan is steeds in bedryf. Mchunu het verduidelik die riglyne het betrekking op wetstoepassingsbehoeftes, nie beleid nie, en het beklemtoon bedryfs-herstrukturering, insluitend die taakspan, is vroeër aanvaar en het volgens ‘n gefaseerde benadering voortgeduur:
Getuie A sê intussen lede van die Valke het probeer inmeng tydens die inhegtenisneming van Katiso “KT” Molefe by sy huis in Sandhurst, Johannesburg, in Desember verlede jaar. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê ‘n polisie-helikopter het tien minute oor die huis gehang om die operasie te probeer verhoed. Getuie A sê ene kaptein Kruger het beweer dat hulle opdragte van die Valke se hoof, Godfrey Lebeya, ontvang het en besonderhede van die inhegtenisneming geëis, wat hy geweier het:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê die matriek-eindeksamen het gladweg begin in alle distrikte, sonder groot ontwrigtings. Meer as 16-duisend-900 kandidate het die Rekenaartoepassingstegnologie Vraestel-een afgelê. Vier sentrums het geringe krag- of tegniese probleme aangemeld, maar vinnige ingrypings is ingestel, insluitend kragopwekker- en sonkrag-rugsteunstelsels om te verseker die eksamen gaan sonder vertragings voort. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê alle leerders het onder regverdige, gunstige omstandighede geskryf:
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, as waarnemende president aangestel van vandag tot Sondag. Ramaphosa is op ‘n internasionale reis, wat besoeke aan Indonesië, Viëtnam en Maleisië insluit, waar hy ook ‘n ASEAN-beraad sal bywoon. Adjunkpresident Paul Mashatile is gedurende hierdie tydperk met verlof. Die reise is gemik op die versterking van handel-, belegging- en diplomatieke bande, voordat Ramaphosa volgende maand as voorsitter van die G20-leiersberaad in Johannesburg optree. Ramaphosa sal ook vanaf 29 tot 30 Oktober ‘n staatsbesoek aan Switserland aflê.
# Krieket: Australië se kaptein, Alyssa Healy, het weens ‘n besering onttrek aan môre se Wêreldbeker-groepswedstryd teen Engeland. Sy het volgens berigte ‘n geringe spierbesering opgedoen tydens oefening, maar dis nog nie seker of sy reg sal wees vir die res van die toernooi nie. Australië en Engeland is tans boaan die punteleer en het albei reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer, maar Suid-Afrika sal albei verbysteek as hulle Pakistan vandag klop. Die Proteas en Australië speel Saterdag, terwyl Engeland se laaste groepswedstryd Sondag teen Nieu-Seeland is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-103-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….