Nuus 18:00
BULLETIN 20 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie A onthul ‘n verbintenis tussen die verdagtes in die moord op Armand Swart en ‘n oorlede taxibaas
# Die ANC en COSATU vergader om hulle alliansie te versterk en ekonomiese uitdagings aan te pak
# En krieket: ‘n Oortuigende oorwinning vir Engeland oor Nieu-Seeland in die tweede T20
# Die Madlanga-kommissie het gehoor dat sekere polisiebeamptes probeer het om die ondersoek na die moord op ‘n ingenieur van Q-Tech Engineering, Armand Swart, te belemmer. Getuie A, wat aanlyn getuig, sê na die inhegtenisneming van drie verdagtes, insluitend die speurder Michael Pule Tau, is ondersoekbeamptes gewaarsku oor inmenging van die polisie. Hy getuig dat die verdagtes verbind word aan Gauteng se “groot vyf”-misdaadsindikaat, die oorlede taxibaas Jothan “Mswazi” Msibi, en ‘n offisier van die Valke, slegs bekend as “Zungu”:
# Die ANC en COSATU hou ‘n bilaterale vergadering in COSATU-huis in Braamfontein, Johannesburg, om hul alliansie te versterk en werkers se bekommernisse te bespreek. Die ANC sal sy ekonomiese aksieplan vir terugvoer voorlê. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê gesprekke sal fokus op die verbetering van werkers se regte, dienslewering en werkskepping. Hy sê die vergadering sal besin oor ekonomiese prestasie, werkloosheid en die versterking van samewerking voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing:
# Die EFF-leier, Julius Malema, het die leier van Operasie Dudula, Zandile Dabula, gekritiseer ná haar regstreekse eNCA-onderhoud toe sy oor voorste linie-state uitgevra is. Dabula het gesukkel om te reageer en die bespreking ontduik deur oor onverwante onderwerpe te praat. Malema het die gesprek op sosiale media gedeel en haar gebrek aan geskiedkundige kennis beklemtoon. Operasie Dudula is bekend vir sy teenkanting van ongedokumenteerde immigrasie, maar het beskuldigings van xenofobie ontken. Dabula dring aan die groep dwing immigrasiewette af om Suid-Afrikaanse burgers te beskerm.
# Krieket: Engeland het Nieu-Seeland se swak veldwerk gestraf om die tweede T20 in Christchurch met 65 lopies te wen nadat die openingswedstryd uitgereën het. Die besoekers het ‘n reuse-totaal van 236 vir vier aangeteken nadat die Swartpette die loot gewen en Engeland ingestuur het om te kolf. Aanvangskolwer Phil Salt, met 85, en Engeland se kaptein, Harry Brook, met 78, het die boulers behoorlik gestraf. Engeland se draaibouler, Adil Rashid, het daarna vier paaltjies geneem en Nieu-Seeland is uitgeboul vir 171.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-50-sent per vat.
# En laastens, die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer Imraan Coovadia se kortverhaal, Vast and Cool and Unsympathetic, is op die kortlys vir die internasionale letterkunde-prys vir wetenskapsfiksie in die kategorie Vreemde Taal. Dit is geïnspireer deur die sielkundige uitwerking op mense in Nairobi, Kenia, en Johannesburg wat aangestel is om ontstellende inhoud op Facebook deur te gaan en te klassifiseer. Coovadia is een van 27 skrywers op die kortlys uit meer as twee-duisend-400 voorleggings wat van reg oor die wêreld ontvang is. Die toekenningseremonie word op 6 November in Rusland gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….