Nuus 18:00
BULLETIN 17 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu sê Ramaphosa het saamgestem met die ontbinding van die politieke moorde-
# Die Departement van Vervoer sê oorlading en ‘n onpadwaardige bus was die oorsaak van die tragedie in Limpopo
# En ‘n tiener is tot 25-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Deveney Nel van die Hoërskool Overberg
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê president Cyril Ramaphosa het saamgestem met die besluit om die taakspan vir politieke moorde te ontbind. Hierdie verklaring weerspreek bewerings deur die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, wat voorheen kommer uitgespreek het oor politieke inmenging in die sluiting van die eenheid. Mchunu sê hy het met volle kennis van die president se goedkeuring opgetree toe die taakspan ontbind is:
# Die Departement van Vervoer het sy voorlopige bevindings vrygestel oor dié week se busramp in Limpopo waarin 43 mense dood is. Die bus met 62 sitplekke wat onderweg na Zimbabwe was, was oorlaai met 91 passasiers, en slegs die helfte van sy remme het gewerk terwyl die sleepwa geen werkende remme gehad het nie. Die bestuurder het ook te vinnig gery. Minister Barbara Creecy het opdrag gegee vir nog ondersoeke na die busmaatskappy en ander busse, asook moontlike strafregtelike aanklagte:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n 18-jarige seun tot 25-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n graad 10-leerder van die Hoërskool Overberg in Caledon, Deveney Nel. Die tiener, wie se identiteit ingevolge die Kinderwet beskerm word, is ook skuldig bevind aan regsverydeling as deel van ‘n pleitooreenkoms. Deveney se liggaam is op 14 Augustus verlede jaar met veelvuldige steekwonde ontdek in ‘n pakkamer by die skool nadat sy as vermis aangemeld is. Die saak het die debat oor Suid-Afrika se Wet op Kindergeregtigheid weer aangewakker.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het weer sy lastersaak van 260-miljard-rand teen New York Times ingedien. Trump het sy langdurige vyandigheid teenoor die media verskerp sedert sy terugkeer na die Withuis en die saak is een van talle aanvalle op nuusorganisasies wat hy van vooroordeel beskuldig. Die klagte is in September uitgegooi toe distriksregter Steven Merryday beswaar gemaak het teen die oordadige skryfwerk, lofbetuigings van Trump en die oormatige lengte van 85 bladsye. Die nuwe saak wat in Florida aanhangig gemaak is, is slegs 40 bladsye lank.
# Rugby: Die Springbok-heelagter Warrick Gelant maak môre sy eerste verskyning van die seisoen vir die Stormers in hulle Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Zebre Parma in Italië. Daar is vier veranderinge aan die beginspan. Damian Willemse is kaptein Ruhan Nel se sentermaat. Onder die voorspelers sluit Adré Smith aan by Ruben van Heerden as die slotte, terwyl die jong vaskopstut Zachary Porthen die eerste keer in die Stormers se opdrafspan is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-183-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-232-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….