Nuus 18:00
BULLETIN 16 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu sê die gapings in die oordrag tussen nasionale polisiekommissarisse het die politieke moorde-taakspan se optrede geraak
# Die DA in Gauteng verkla ‘n gewese gesondheidshoof oor die korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal
# En rugby: Die Haaie het hulle Bokke terug vir die wedstryd teen Ulster
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê die gapings in die oordrag tussen nasionale polisiekommissarisse Khehla Sitole en Fannie Masemola het die bedrywighede van die politieke moorde-taakspan beïnvloed. Mchunu sê die gebrek aan ‘n behoorlike oordrag het vertragings en verwarring veroorsaak, wat begrotingsgoedkeurings en toesig oor die taakspan geraak het. Hy het bygevoeg dat leierskapsgapings dit moeiliker gemaak het om die span se behoeftes en doeltreffendheid te beoordeel:
# Die DA in Gauteng het ‘n strafregtelike klagte teen die voormalige finansiële hoof van Gauteng se Gesondheidsdepartement, Lerato Madyo, ingedien oor haar beweerde rol in die Tembisa-hospitaal-korrupsieskandaal. Die klagtes sluit in die versuim om korrupsie, sameswering, bedrog en veelvuldige oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aan te meld. Madyo het na bewering die waarskuwings van die fluitjieblaser, Babita Deokaran, geïgnoreer en onreëlmatige betalings van meer as 104-miljoen-rand toegelaat. Jack Bloom van die DA doen ‘n beroep vir ‘n dringende polisie-ondersoek.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, sê Wêreldvoedseldag is ‘n herinnering dat die reg tot voedsel nie ‘n voorreg is nie, maar ‘n fundamentele mensereg. Vanjaar se tema is Hand aan Hand vir Beter Kos en ‘n Beter Toekoms. Meyer sê hulle werk hand aan hand deur vennootskappe en gemeenskapsgedrewe programme om te verseker dat geen huishouding, kind of gemeenskap vergeet word in die nastrewing van ‘n voedselseker provinsie nie:
# Rugby: Die Haaie se groot kanonne is terug vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Ulster op Kingspark in Durban. Die Springbokvoorspelers Ox Nché, Eben Etzebeth en Siya Kolisi sluit na hulle triomfantlike Rugbykampioenskaps-veldtog aan by hulle mede-Bokke, Bongi Mbonambi en Vincent Koch, in die opdrafspan. Die skrumskakel Grant Williams en die binnesenter André Esterhuizen is deel van ‘n sterbelaaide agterlyn, met Siya Masuku wat die eerste keer dié seisoen in die beginspan is. Die broers Jaden en Jordan Hendrikse is saam met Lukhanyo Am op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-733-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-259-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-83-sent per vat.
# En laastens: Die Vereniging vir Staatsamptenare het sy ondersteuning en aanmoediging aan die matriekklas van 2025 oorgedra terwyl leerders hulle voorberei om die eindeksamen af te lê. Die Nasionale Senior Sertfikaat-eksamen begin volgende week. Claude Naicker van die vakbond sê dis ‘n betekenisvolle mylpaal wat jare se studies, opoffering en deursettingsvermoë weerspieël asook ‘n nuwe hoofstuk in leerders se lewens. Hy voeg by hoewel akademiese pretasie deure open, is deursettingsvermoë, harde werk en volharding net so belangrik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….