Nuus 18:00
BULLETIN 14 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig hy ken die Tembisa-tenderpreneur, Hangwani Maumela
# Gesondheidsowerhede in Gaza sê minstens ses Palestyne is dood in twee afsonderlike skietvoorvalle
# En swem: Shane Ryan van Ierland is die jongste atleet om vir die Opkikkerspele in te skryf
# President Cyril Ramaphosa het in die Nasionale Raad van Provinsies bevestig hy het die beweerde tenderkorrupsie-magnaat van die Tembisa-hospitaal, Hangwani Maumela, verlede jaar voor sy huis in Sandhurst, Johannesburg, ontmoet. Hy het op mondelinge vrae geantwoord hy was 47-jaar gelede getroud met Maumela se tannie, sy pa se suster, maar hulle is later geskei. Ramaphosa sê hy is geskok oor die bewerings teen Maumela en hy het geen kontak of betrekkinge met hom nie:
# Getuienisleier Adila Hassim het aan die Madlanga-kommissie gesê Getuie X se verklaring dui aan dat die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala vertroulike rekords met identiteitsnommers van hoëprofiel-persone versprei het. Hassim sê getuienis toon ook dat Matlala met die sakeman Suleiman Kareem kommunikeer het oor sy gesondheidsdiens-tender, skermkiekies van polisiefakture gedeel het en betalings van miljoene rand bespreek het:
# Die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragprodusentevereniging sal later hierdie maand met Eskom vergader. Bekommernisse bestaan dat beplande hernubare projekte die bestaande netwerktoegangsreëls wat op onafhanklike produsente van toepassing is, kan omseil. Die vereniging het ook die Mededingingskommissie gewaarsku oor moontlike markoorheersing. Die voorsitter, Leoné Human, sê Eskom moet op gelyke voorwaardes meeding en waarsku voorkeurbehandeling kan regverdige toegang tot netwerk-vermoë ondermyn namate Eskom sy hernubare energieportefeulje uitbrei.
Nuus uit die buiteland:
# Gesondheidsowerhede in Gaza sê minstens ses Palestyne is dood in twee afsonderlike voorvalle. Die Israelse Weermag het vroeër gesê hulle het geskiet nadat verskeie verdagtes die onttrekkingslyn oorgesteek en magte in die noordelike Gazastrook genader het. Die Weermag het die inwoners van Gaza versoek om sy opdragte te gehoorsaam en nie na die magte in die gebied te beweeg nie. Ingevolge die eerste fase van die wapenstilstandooreenkoms het Israelse magte onttrek, maar bly steeds in beheer van sowat 53-persent van Gaza.
# Swem: Die Ierse Olimpiese atleet Shane Ryan gaan deelneem aan die eerste Opkikkerspele wat in Mei volgende jaar in Las Vegas plaasvind. Dit word beskryf as ‘n revolusionêre alternatief vir die Olimpiese Spele, waar atlete opkikkers mag gebruik sonder om getoets te word. Ryan sê na ‘n dekade van tradisionele kompetisie op die hoogste vlak is hy opgewonde om in hierdie volgende hoofstuk in te duik. Hy sluit aan by die Britse swemmer Ben Proud, die Griekse swemmer Kristian Gkolomeev en die Amerikaanse naelloper Fred Kerley.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-941-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….