Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou die terugkoopkoers onveranderd op 8,25-persent
# Meer as 18-duisend Suid-Afrikaners in die buiteland het reeds geregistreer om te stem
# En, sokker: Mohamed Salah sal na die Afrikabeker-toernooi terugkeer indien hy fiks is
# Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het besluit die terugkoopkoers bly onveranderd op 8,25-persent, in ooreenstemming met verwagtinge van die eerste vergadering van die jaar. Die prima uitleenkoers bly dus ook onveranderd op 11,75-persent. Die eenparige besluit volg op ‘n bestendige negemaande-normkoers. President Lesetja Kganyago het die media toegelig en gewaarsku teen onsekerhede, geopolitieke spanning en klimaatsverandering wat ʼn uitwerking op aanbodkettings het. Hy sê dit is ondanks verlede maand se verbruikersprysinflasie wat tot 5,1-persent teruggesak het, wat laer is as wat verwag is:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê 18-duisend-469 Suid-Afrikaanse burgers wat in 101 lande woon, het begin registreer om te stem met behulp van die aanlyn registrasieportaalstelsel wat verlede maand bekendgestel is. Die kommissie het ‘n nuuskonferensie gehou oor die gereedheid vir die registrasieproses hierdie naweek. Sowat 21-duisend Suid-Afrikaners het in 2019 in die buiteland gestem. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, moedig kiesers aan om hulle registrasiestatus by die naaste diplomatieke sending te bevestig met hul ID-boek of slimkaart:
# Die volksmoord-oorlewendesgroep, IBUKA, het die herwinning van 120 slagoffers se oorskot uit massagrafte in ‘n Rwandese dorpie bevestig. Die uitvoerende sekretaris, Naphthali Ahishakiye, sê vrywilligers het die oorskot opgegrawe nadat ‘n inwoner ‘n moontlike massagraf aangemeld het. Ondersoeke het verlede Oktober begin toe die oorskot tydens bouwerk gevind is. Meer as 100-duisend volksmoordslagoffers se oorskot is die afgelope vyf jaar in Rwanda opgespoor. Die volksmoord van 1994 het ongeveer een-miljoen sterftes tot gevolg gehad, meestal uit die Tutsi-gemeenskap, aan die hand van Hutu-ekstremiste.
# Sokker: Mohamed Salah sal beslis vir Egipte speel in die eindstryd van die Afrikabekertoernooi indien hy fiks is en sy land kwalifiseer. Die speler van Liverpool het huiswaarts gekeer uit die Ivoorkus met ʼn dyspierbesering. Liverpool se bestuurder, Jürgen Klopp, sê die klub en Egipte wil albei hê Salah moet so gou moontlik fiks wees. Hulle verwag hy sal oor binne drie tot vier weke terug wees. Die eindstryd van die Afrikabekertoernooi is op 11 Februarie. Egipte speel Sondag in die ronde van 16 teen die DR Kongo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-en-7-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Chen Xiaodong, sal die gasheer wees vir die minister van Toerisme, Patricia de Lille, en die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, tydens die plaaslike 2024 Chinese Nuwejaarsvierings. Hierdie jaar se vierings, wat Maandag by die Sun Arena Time Square in Pretoria-Oos plaasvind, sal rondom die tema, Jaar van die Draak, wentel. Die geleentheid sal die tradisies van die Chinese gemeenskap uitlig, terwyl kulturele fasette van Suid-Afrika ingesluit sal word. Die amptelike viering in China vind in Februarie plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….