Nuus 18:00
BULLETIN 2 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die moord op die hoofverdagte in die Murray-moorde toon die opkoms van ‘n mafia-staat
# Openbare veiligheid is in gevaar met meer as 18-duisend paroolgangers wat binne drie jaar weer oortree
# En rugby: Die Haaie maak drie veranderings aan hulle agterlyn vir die wedstryd teen die Dragons
# Die DA sê die moord op die hoofverdagte in die moord op die likwidateur Cloete Murray en sy seun, Thomas, toon Suid-Afrika loop gevaar om ‘n mafia-staat te word. Burnett Hermanus is gisteraand op die parkeerterrein van die Netcare Milpark-hospitaal in Gauteng doodgeskiet. Die DA-lid, Glynnis Breytenbach, skryf dit toe aan die gebroke strafregstelsel, die gekaapte polisiediens en die swak vervolgingsgesag:
# Die Stad Kaapstad het 40 nuwe metropolisiebeamptes ontplooi om veiligheid te verbeter op die N2-snelweg, die lughawe en die Borcherds-steengroefgebied. Patrollies sal dag en nag in werking wees om motoriste by te staan en misdaad te voorkom. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê dis deel van die stad se grootste belegging in wetstoepassing in meer as ‘n dekade, met beamptes wat toegerus is met paneelkameras en nommerplaat-herkenningstegnologie. Hill-Lewis moedig padgebruikers aan om veilig te bestuur, voertuie padwaardig te hou en enige verdagte bedrywighede langs hierdie sleutelroetes aan te meld.
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, waarsku teen die toestaan van parool net om die oorbevolking in tronke te verminder. Hy het op ‘n vraag in die Parlement geantwoord dat meer as 18-duisend paroolgangers die afgelope drie jaar weer oortree het, insluitend 493 wat van moord aangekla word en 624 van verkragting. Diefstal en huisbrake is die algemeenste oortredings. Meer as 46-duisend gevangenes is sedert 2022 op parool vrygelaat, en meer as 28-duisend parooloortredings is sedert 2020 aangeteken. Groenewald vra ernstige paroolhervorming ter wille van openbare veiligheid.
# Die Oos-Kaap se waarnemende premier, Mlungisi Mvoko, sê die voertuigsektor se toekoms is in groenenergie-voertuie en soos sake staan is Chinese voertuigvervaardigers tans wêreldleiers. Hy het die hoofrede gelewer op die vierde Suid-Afrikaanse Voertuigweek in Gqeberha. Mvoko het die belangrikheid van die voertuigsektor beklemtoon, veral in die provinsie, en sê dis die hoofbron van vaardighede en belegging, veral in Oos-Londen, Gqeberha en Kariega:
# Rugby: Die Haaie het drie veranderinge in die agterlyn gemaak vir môreaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Dragons in Wallis. Hoofafrigter John Plumtree het nie aan die voorspelers verander nie. Jean Smith neem oor by Jaden Hendrikse wat verlede week as losskakel ingestaan het en terugskuif na skrumskakel. Lukhanyo Am skuif van buite- na binnesenter, wat ‘n opening laat vir Jurenzo Julius wat inkom as sy vennoot in die middelveld. Edwill van der Merwe skuif na heelagter, met PK Sobahle wat vleuel speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-720-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-863-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….