Nuus 18:00
BULLETIN 1 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse polisie voer klopjagte uit by 26 geboue oor beweerde tenderbedrog van 1,6-miljard-rand
# ‘n Boot-ongeluk in Nigerië eis minstens 26 lewens
# En krieket: Australië toets beserings-plaasvervangers vir toetse
# Die Kaapstadse polisie het klopjagte uitgevoer by 26 eiendomme wat verbind word met ‘n beweerde tenderbedrogsaak van 1,6-miljard-rand. Die grootskaalse operasie is gelei deur die Handelsmisdaad-ondersoekeenheid. Die stad se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê die polisie het beslag gelê op dokumente en elektroniese bewyse om die volle omvang van die beweerde korrupsie te bepaal:
Die GOOD-party sê intussen die klopjagte ontbloot krake in die DA se bewering van skoon regering. Die party verwelkom pogings om korrupsie aan te pak en loof die Handelsmisdaad-ondersoekeenheid vir die gekoördineerde werksaamhede wat beweerde munisipale verkrygings-onreëlmatighede teiken. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, beloof om pogings te ondersteun wat deursigtigheid en eerlike dienslewering bevorder:
# ‘n Voedselverwerkingsfabriek in Ashton in die Wes-Kaap het ‘n nuwe era betree onder Langeberg Foods en het vandag amptelik met sy werksaamhede begin. Die nuwe eienaarskap, wat oorneem by Tiger Brands, sluit in Norfund, die Ashton Fruit Producers Co-Operative en die Langeberg-gemeenskapstrust. Dit beoog om werksgeleenthede te verseker, plaaslike boere te ondersteun en gemeenskapsontwikkeling te bevorder. Die voorsitter, Anthony Dicey, sê die fabriek is ‘n belangrike werkgewer vir meer as drie-duisend werkers en ‘n groot uitvoerder, en sal voortgaan om ekonomiese groei in die Breëriviervallei aan te vuur.
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 26 mense is dood in ‘n bootongeluk op die Niger-rivier in die suide van Nigerië. Die boot het handelaars na ‘n mark op die teenoorgestelde oewer vervoer. Ongelukke is algemeen op Nigerië se besige riviere, en word dikwels veroorsaak deur oorlaaide bote, swak onderhoud of versuim om aan veiligheidsmaatreëls te voldoen. Verlede maand het ‘n oorlaaide veerboot in die staat Niger omgeslaan nadat dit vermoedelik ‘n boomstomp getref het, en minstens 32 mense het verdrink.
Nou sportnuus:
# Krieket Australië gaan die gebruik van beserings-plaasvervangers toets in hierdie seisoen se plaaslike Sheffieldskild-kompetisie om uit te vind of dit op toetsvlak ingestel kan word. Dit sal met die goedkeuring van die Internasionale Krieketraad getoets word in die eerste vyf rondes van die rooibal-kompetisie, wat hierdie naweek begin. Spanne sal ‘n beseerde speler tot aan die einde van die tweede dag se spel kan vervang met die goedkeuring van die wedstrydskeidsregter. In die belang van regverdigheid sal die ander span terselfdertyd ‘n taktiese plaasvervanger kan opstuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-180-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-869-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….