Nuus 18:00
BULLETIN 29 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van Misdaadintelligensie ontmasker die opkoms van ‘n magtige dwelmkartel
# ActionSA verwyder onderpresterende raadslede in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni
# En tennis: Alcaraz volg Nadal se voorbeeld deur die seisoen se tiende eindstryd te haal
# Die hoof van Misdaad-intelligensie, Dumisani Khumalo, het aan die Madlanga-kommissie gesê die strafregstelsel is geïnfiltreer deur ‘n magtige dwelmkartel bekend as die Groot Vyf. Volgens Khumalo is die kartel gebaseer in Gauteng met netwerke in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, en word verbind aan senior politici en mense in die binnekringe van wetstoepassing. Hy het onthul privaat sekerheids-ondernemings word as fronte gebruik om wettige toegang tot vuurwapens te verkry:
Khumalo sê ook die afdeling het ernstige ontwrigting ervaar tydens Richard Mdluli se termyn as hoof. Khumalo sê tussen 2011 en 2012 is hulpbronne by Misdaadintelligensie misbruik terwyl gebrekkige operasionele metodes aangewend is. Hy sê pogings deur waarnemende bestuur om die probleme reg te stel is ondermyn, en ‘n aantal waarnemende hoofde, insluitend hyself, is verwyder:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het minstens vyf Johannesburgse raadslede afgedank as deel van ‘n skoonmaakproses in Gauteng, wat Tshwane en Ekurhuleni ook raak. News24 berig die verwyderings volg ná swak prestasie, met sekere raadslede wat minder as tien-persent van hul belangrike prestasieteikens bereik het. Mashaba sê die besluit wat aanvanklik vir Mei bepaal is, is uitgestel, maar dit was onregverdig om hardwerkende lede nie te betaal nie, terwyl onderpresterende raadslede steeds hul salarisse ontvang het.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in Limpopo sê hy gee sy samewerking met owerhede en gaan veiligheidsmaatreëls hersien om toekomstige tragedies te voorkom. Dit volg nadat 12 mense gister dood is in ‘n botsing op die R81 naby Ga-Sekgopo in Mooketsi. Sipho Maloma van Santaco sê hulle gedagtes en gebede is by die naasbestaandes, die oorlewendes en almal wat geraak is:
# Tennis: Carlos Alcaraz het teruggeveg om Casper Ruud van Noorweë in Tokio in drie stelle te klop. Die oorwinning het aan hom sy tiende eindstryd in ‘n skouspelagtige seisoen besorg, waarmee hy volg in die voetspore van sy Spaanse landgenoot, Rafael Nadal. Die wêreld-nommer-een en Amerikaanse Ope-kampioen speel môre in die eindstryd van die Japanse Ope teen die Amerikaner Taylor Fritz, wat hom onlangs in die Laverbeker-toernooi verslaan het. Geen man kon nog tien eindstryde in ‘n enkele seisoen bereik sedert die legendariese Nadal in 2017 nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-897-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-821-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….