Nuus 18:00
BULLETIN 25 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zwelivelile Mandela sê die Gaza-flottielje staar binne 48-uur ‘n gewelddadige eskalering in die gesig
# ‘n Polisie-regskenner waarsku die maandelange stilstand van die politieke moorde-taakspan se sake belemmer geregtigheid
# En, onwettige verbindings en elektrisiteitsdiefstal bly groot struikelblokke vir ‘n stabiele elektrisiteitsnetwerk
# Hoofman Zwelivelile Mandela sê die internasionale Sumud-flottielje staar binne die volgende 48-uur die bedreiging van gewelddadige eskalasie vanaf Israel in die gesig. Mandela het tydens ‘n nood-nuuskonferensie gewaarsku geloofwaardige intelligensie dui aan pogings kan aangewend word om bote te sink of deelnemers te beseer terwyl die flottielje vaar om die Gaza-seeblokkade te verbreek. Hy het regerings, internasionale organisasies en die burgerlike samelewing aangespoor om druk uit te oefen en veilige deurgang te verseker:
# ‘n Regskenner van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Marga van Rooyen, het aan die Madlanga-kommissie gesê dat om dossiere van die taakspan vir politieke moorde maande lank na Pretoria te stuur sonder dat daar ondersoek ingestel word, kom neer op die onderdrukking van ondersoeke. Van Rooyen sê hierdie wanhantering van sake belemmer voortgesette ondersoeke en ondermyn die doeltreffendheid van polisie-operasies. Sy het beklemtoon die behoorlike hantering van dossiere val onder die gesag van die nasionale polisiekommissaris, nie die minister van Polisie nie:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê onwettige verbindings en elektrisiteitsdiefstal is steeds groot struikelblokke vir ‘n stabiele netwerk. Daar is voldoende opwekkingskapasiteit, maar hierdie probleme plaas druk op die verspreidingsnetwerk, wat oorlading veroorsaak en ladingverminderingsmaatreëls afdwing wat meer as een-miljoen mense raak. Ramokgopa sê dit is van kardinale belang dat diefstal en ongemagtigde verbindings hok geslaan word om betroubare elektrisiteitsvoorsiening te verseker en infrastruktuur te beskerm:
# Die voormalige president, Nicolas Sarkozy sal Frankryk se eerste na-oorlogse leier word om tronk toe te gaan, nadat ‘n hof hom tot vyf jaar tronkstraf gevonnis het oor ‘n skema waarin die oorlede Libiese diktator Moammar Kadhafi, Sarkozy se presidensiële verkiesing in 2007 befonds het. Die hof het hom skuldig bevind op aanklagte van misdadige sameswering, maar hy is vrygespreek op aanklagte van korrupsie. Die hof het gelas dat Sarkozy op ‘n latere datum in aanhouding geplaas moet word en aanklaers het ‘n maand tyd om hom in kennis te stel wanneer hy tronk toe moet gaan.
# Tennis: Die wêreld se nommer-een, Carlos Alcaraz, het ten spyte van ‘n enkelbesering die Argentyn Sebastian Baez met 6-4, 6-2 in sy openingswedstryd van die Japanse Ope in Tokio geklop. Hy het op die baan neergesak nadat hy die bal in die vyfde pot van die eerste stel gejaag het, en vir ‘n paar minute op die baan bly sit. Die Spanjaard se linker-enkel is tydens ‘n mediese pouse swaar verbind, voor hy verder kon speel. Die wedstryd is vir nog ‘n halfuur vertraag terwyl die organiseerders die dak moes toemaak nadat dit begin reën het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-707-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-732-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….