Nuus 18:00
BULLETIN 22 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola onthul dreigemente teen polisiebeamptes wat Armand Swart se moord ondersoek, lei tot vermindering van taakspanlede
# Meer as 300 verdagtes word tydens Operasie Shanela in Tshwane vasgetrek
# En, Rusland ontken skending van NAVO-lugruim, waarsku dat beskuldigings spanning mag verhoog
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola sê dreigemente wat gemaak is teen polisiebeamptes wat die moord op ‘n ingenieur van Vereeniging, Armand Swart, ondersoek, die verkleining van die span van vyf na twee lede tot gevolg gehad het. Swart, ‘n ingenieur van Q-Tech Engineering, is te midde van ‘n ondersoek na tenderbedrog by Transnet vermoor. Masemola het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die saak behels ernstige risiko’s vir ondersoekbeamptes, wat die herontplooiing van lede van die politieke taakspan tot gevolg gehad het:
# Operasie Shanela in Rietgat en Soshanguve in Tshwane het die naweek tot die inhegtenisneming van 354 verdagtes gelei wat weens verskeie misdade aangekeer is. Dit sluit in moord, poging tot moord, verkragting, roof en geslagsgeweld. Die polisiewoordvoerder, Johan van Dyk, sê 48 ongedokumenteerde buitelanders is ook vasgetrek en aan immigrasie-owerhede oorhandig:
# Jong entrepreneurs het G20-leiers dringend gevra om klimaat-optrede te versnel. Meer as 600 afgevaardigdes van alle G20-lande het onlangs die G20-beraad vir jong entrepreneurs in Gauteng bygewoon. Die beraad het tasbare uitkomste beklemtoon, insluitend die bekendstelling van programme wat optrede kan versnel, aanbevelings oor beleid, en beleggingsgeleenthede en ‘n ekonomiese handves van die jeug. Die Global Young Entrepreneurs Alliance sê entrepreneurskap kan ‘n dryfveer wees vir groen ekonomiese oorgang, volhoubare landbou en klimaatslim innovasie. Die beraad het onderneem om regerings te vra om ‘n volhoubare omgewing, asook handel en digitale groei te prioritiseer.
# Rusland ontken dat sy vliegtuie NAVO se lugruim geskend het en waarsku dat lande wat sulke beskuldigings maak “spanning kan verhoog”. Drie Russiese vegvliegtuie het ‘n NAVO-lid, Estland, se lugruim binnegedring voor hulle deur NAVO-vliegtuie uit die gebied begelei is. Die MiG-31 vegvliegtuie, se radiosenders was afgeskakel en hulle nie met Estlandse lugverkeersbeheer geskakel nie. ‘n Woordvoerder van die Kremlin, Dmitry Peskov, ontken Estland se weergawe van gebeure, en sê Rusland se weermag tree “streng binne die beperkings van internasionale wet op, insluitende regulasies wat op vlugte van toepassing is”.
# Netbal: Die Baba-Proteas het hulle tweede oorwinning by die 2025 Netbal-wêreldjeugbeker in Gibraltar, Spanje in Groep D ingepalm. Hulle het Trinidad en Tobago vanoggend met 105-15 verslaan. Suid-Afrika het slegs drie doele in die eerste kwart van die wedstryd afgestaan en het teen halftyd met 57-0 voorgeloop. Hulle het Saterdag hulle toernooi begin met ‘n oorwinning van 102-27 oor Barbados. Kaptein Phophi Nematangari sê ‘n oorwinning môre teen Malawi kan hulle ‘n plek onder die laaste agt spanne in die toernooi besorg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-012-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-718-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….