Nuus 18:00
BULLETIN 19 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi vermoed generaal Feroz Khan het inligting aan die sakeman Brown Mogotsi gestuur
# Giwusa sê die Reserwebank beskerm bankierswinste terwyl werkers deur skuld verswelg word
# En, die tafel is gedek vir ‘n opwindende Curriebekereindstryd
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het die Madlanga-kommissie meegedeel hy vermoed dat ‘n senior misdaadintelligensieoffisier, Feroz Khan, inligting aan die sakeman Brown Mogotsi voorsien het. Mkhwanazi sê Mogotsi het aan hom gesê dat Khan hom sou inlig, wat aandui dat Khan hom met opdaterings voorsien het. Hy beklemtoon dat hy nie vir Khan van enige wandade beskuldig nie, maar sê die saak moet ten volle deur die kommissie ondersoek word:
# Die vakbond vir algemene nywerhede, Giwusa, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers op sewe-persent te hou is ‘n doelbewuste aanslag op die werkersklas en die armes. Die vakverbond sê die prima-uitleenkoers van 10,5-persent bevoordeel die banke terwyl die lewenskoste-krisis vererger, met basiese voedsel- elektrisiteit- en brandstofpryse wat vinnig styg. Die president van Giwusa, Mametlwe Sebei, vra vir onmiddelike rentekoers besnoeiings, prysbeheer op noodsaaklike items, die nasionalisering van groot banke, en ‘n massiewe openbare werksprogram:
# Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel bied ‘n G20-rondetafel by Bluewater Bay in Gqeberha aan, met die fokus op hawe-infrastruktuur, handelsgroei en werkskepping. Die uitvoerende hoof van die Oos-Kaapse Transnet Haweterminale, Wandisa Vazi, sê die hawens in Port Elizabeth, Ngqura en Oos-Londen het meer as 500-miljoen-rand in belegging getoon, wat doeltreffendheid en werkverskaffing verhoog. Sy het in gesprek met SABC News beklemtoon hoe belangrik vennootskappe met die regering is om die provinsie vir toekomstige handel en ekonomiese groei te posisioneer:
# Die Europese Kommissie het ‘n nuwe sanksie-pakket teen Rusland voorgestel. Dit is die 19de een sedert die volskaalse-aanval op Oekraïne in 2022. Al 27 die lidlande van die EU moet die plan goedkeur. EU-bronne het aan Reuters gesê die kommissie sal ‘n verbod voorstel op die invoere van Russiese aardgas vanaf 1 Januarie 2027. Dit volg na onlangse uitsprake deur die Amerikaanse president, Donald Trump, wat NAVO-lande aanmoedig om nie olie by Rusland te koop nie ten einde die oorlog teen Oekraïne te beëindig. Trump het gister by ‘n mediakonferensie gesê as die olieprys daal, sal “Putin die oorlog laat vaar”.
# Rugby: Die tafel is gedek vir ‘n opwindende einde aan die 2025 Curriebekerseisoen met die Leeus wat die Griekwas môre op Ellispark verwelkom. Die twee spanne het twee weke gelede vir hul enigste ander wedstryd van die seisoen teen mekaar gespeel. Die Leeus se gemaklike oorwinning van 37-7 in Kimberley en hulle tot bo-aan die punteleer geskuif. Die uitslag sal die Leeus beslis sielkundig bevoordeel, maar dit sal waarskynlik die Griekwas aanspoor om een stap verder te gaan en geskiedenis te maak. Die afskop is om 3nm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-301-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-660-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….