Nuus 18:00
BULLETIN 17 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA dien dossiere oor volksmoordbewerings teen Israel by die VN Veiligheidsraad in
# Mkhwanazi sê die moord op die ingenieur Armand Swart ontbloot polisiekorrupsie en georganiseerde misdaad
# En krieket: Kepler Wessels se seun maak sy buiging as ‘n topvlak-skeidsregter in Australië
# Suid-Afrika het vandag drie openbare dossiere by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ingedien waarin Israel beskuldig word van volksmoord teen Palestyne in Gaza. Die voorleggings beskryf beweerde aanhitsing deur Israelse amptenare, dade van volksmoord en verhongering en die gebruik van hulpverlening as ‘n wapen. Die dossiere dien as aanvulling tot Suid-Afrika se voortgesette saak in die Internasionale Geregshof en volg op ‘n VN-verslag wat aandui dat volksmoord plaasvind. Suid-Afrika hoop die raad sal ingevolge die VN-Handves optree.
# Die polisiekommisaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die moord op die ingenieur van Q-Tech Engineering, Armand Swart, ontbloot korrupsie en georganiseerde misdaad binne die polisie. Swart is verlede jaar vermoor nadat hy tenderbedrog by Transnet uitgewys het. Mkwhanazi het voor die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig dat ondersoekbeamptes dreigemente, omkooppogings en peutery met bewysstukke ondervind. Hy sê dit het gelei tot die ontplooiing van tien beamptes van die politieke moord-taakspan in ‘n geheime optrede in Gauteng:
# Die DA gaan die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, in die Parlement uitvra oor sy departement se mislukkings, soos wanbestuur, befondsing en roekelose finansiële besluite. Die party sê kultuurfeeste en grondvlaksport het gely nadat 82-miljoen-rand van sportfederasies herlei is om video-assistent-skeidsregter-tegnologie in sokker te befonds. Die DA eis dat befondsing vir feeste herstel word, die volledige openbaarmaking van die Mzansi Golden Economy-toekennings, en ‘n onafhanklike beoordelingsproses. Woordvoerder Leah Potgieter vra ook verantwoordbaarheid en ‘n einde aan politieke inmenging:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, en sy vrou Melania, het aan boord van Marine One by Windsor-kasteel aangekom. Die prins en prinses van Wallis het hulle ontvang vir hul tweede staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk. Hulle het daarna by koning Charles en koningin Camilla aangesluit vir ‘n koets-optog deur die landgoed voor ‘n verbyvlug en vanaand se staatsbanket. Toeriste en Trump-aanhangers, sommige met Make America Great Again-handelsware, het gewag op die egpaar se aankoms. Vier mense is intussen in hegtenis geneem nadat foto’s van Trump en die seksoortreder Jeffrey Epstein op die kasteel uitgebeeld is.
# Krieket: Die seun van die voormalige Protea-kaptein Kepler Wessels het sy buiging as skeidsregter gemaak in Australië se Eendagbekerkompetisie. Die 39-jarige Riki is in Australië gebore terwyl sy pa toetskrieket vir die land gespeel het voor sy terugkeer na Suid-Afrika. Riki het vroeër in Engeland krieket gespeel, waar hy Worcestershire, Northamptonshire en Nottinghamshire verteenwoordig het. Hy het ook vir die Sydney Sixers in Australië se Big Bash-liga gespeel voordat hy in 2022 uitgetree het. Hy is onlangs as Queensland se wedstrydbeampte van die jaar aangewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-858-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-683-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….