Nuus 18:00
BULLETIN 15 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Paroolraad keer die moordenaar Donovan Moodley se vrylating op parool goed
# Slegs 300 sitplekke is beskikbaar vir die publiek by die hoëprofiel-regterlike kommissie in Pretoria
# En atletiek: ‘n Veertiende wêreldrekord vir die paalspringer Mondo Duplantis
# Die Paroolraad het die moordenaar Donovan Moodley se vrylating op parool goedgekeur, maar die finale besluit berus by die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald. Die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste sal die besluit nou hersien. Moodley is in 2005 skuldig bevind aan die ontvoering en moord op die universiteitstudent, Leigh Matthews, en is sedert 2018 in aanmerking vir parool. Sy vorige aansoeke is gekenmerk deur regsgedinge en geskille. Die Matthews-familie en die publiek bly steeds gekant teen sy gebrek aan berou.
# Die Madlanga-regterlike kommissie van ondersoek sê slegs 300 sitplekke sal beskikbaar wees vir die eerste openbare sittings by die Bridgette Mabandla-justisiekollege in Pretoria. Die openbare sittings oor misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel is geskeduleer vir Woensdagoggend om 10-uur, met die daaropvolgende sittings wat om 9:30 begin. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het deelnemers aangespoor om vroeg op te daag:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het die herroeping aangekondig van die Ford Ranger Wildtrak-, Tremor- en Platinum 2025–2026-voertuie. Daar is ‘n probleem met die remversterker wat die risiko vir ongelukke verhoog. Meer as vyf-duisend-600 eenhede word geraak, met herstelwerk wat gratis by Ford-handelaars aangebied word. Intussen is meer as 124-duisend Mitchum-aanrolprodukte herroep nadat ‘n vervaardigingsverandering velreaksies by sensitiewe gebruikers veroorsaak het. Verbruikers word versoek om dit onmiddellik op te hou gebruik, die produkte vir terugbetalings terug te stuur en verskaffers te kontak vir verdere bystand.
# ’n Nuwe NSFAS-krisiskamer is ingestel om geskille op te los en bestendigheid in die volgende akademiese jaar te verseker. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die media ingelig dat die krisiskamer universiteite en kolleges se leiers, studenteverteenwoordigers en gehalte-rade bymekaar bring om geskille vinnig op te los om ontwrigting te vermy. Manamela sê die krisiskamer sal dien as ‘n vroeë waarskuwingstelsel om moontlike ontwrigtings te identifiseer en op te los voor dit vererger:
# Atletiek: Die Sweeds-Amerikaanse paalspringatleet, Mondo Duplantis, het sy eie wêreldrekord vir ‘n 14de keer verbeter met ‘n ongelooflike sprong van 6,30-meter op die Wêreldkampioenskap in Tokio, Japan. Die 25-jarige het reeds die goue medlaje ingepalm toe die jong Griekse atleet, Emmanouil Karalis, op ses meter uitgeval het. Die luidrugtige skare het Duplantis daarna gehelp om met sy derde sprong die rekord van 6,29 meter te verbeter wat hy net ‘n paar weke gelede opgestel het. Kurtis Marschall van Australië het brons ingepalm met 5,95-meter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-41 teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-882-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-660-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….