Nuus 18:00
BULLETIN 12 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kripto-maatskappy in die middelpunt van die moord op Bouwer van Niekerk word voorlopig gelikwideer
# Nuwe bewyse kom na vore in die bedrogsaak teen Danny Jordaan en sy medebeskuldigdes
# En padwedlope: Meer as 18-duisend atlete gaan deelneem aan die naweek se Gun Run in Kaapstad
# Die kripto-maatskappy in die middelpunt van die moord op die insolvensieprokureur Bouwer van Niekerk, NTC Global, is voorlopig gelikwideer. Volgens News24 het die firma 484-miljoen-rand se beleggings ingesamel, met 262-miljoen-rand wat nog aan krediteure verskuldig is. Ondersoeke dui aan dat NTC as ‘n Ponzi-skema bedryf is, en sakeredding het misluk. Van Niekerk is verlede week by sy kantoor in Saxonwold, Johannesburg, doodgeskiet, en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die Hooggeregshof in Pretoria het die finale likwidasieverhoor vir 6 November bepaal.
Nog nuus uit die howe: Nuwe bewyse het na vore gekom in die bedrogsaak van 1,1-miljoen-rand teen die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, die hoof-finansiële beampte, Gronie Hluyo, en die sakeman Trevor Neethling. Die Palm Ridge-Handelsmisdaadhof in Gauteng het gehoor die staat het 64 gigagrepe materiaal om te verwerk voor verrigtinge kan voortgaan. Die aanklaer, Moagi Malebati, sê die verdediging het net sekere e-posse ingedien, wat ‘n dagvaarding aan die diensverskaffer, Afrihost, tot gevolg gehad het. Die saak is uitgestel tot 21 November. Die beskuldigdes is uit op borgtog van 20-duisend-rand elk.
# President Cyril Ramaphosa gaan met ANC-leiers vergader om die mislukkings van plaaslike regering te bespreek. Hy het voor ’n besoek aan Noordwes se provinsiale regering beklemtoon dat munisipaliteite sukkel om dienste te lewer, en verwys na Ditsobotla wat die negende keer onder administrasie is. Ramaphosa het die behoefte beklemtoon om plaaslike regering te herstel en te herposisioneer. Hy bevestig deurlopende gesprekke onder leiding van die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, oor hervormings deur middel van ’n witskrif en skakeling met sleutelrolspelers:
AfriForum sê intussen die privatisering van munisipale skuldinvordering is noodsaaklik om watersekerheid en dienslewering te verseker. Lambert de Klerk van AfriForum sê munisipale skuld aan waterrade oorskry nasionaal 25,1-miljard-rand. De Klerk waarsku voortgesette swak finansiële bestuur kan binne drie maande landwye wateronderbrekings veroorsaak. Hy vra privaat planne om betalings af te dwing en moedig waterrade aan om verkwistende besteding te bekamp:
# Padwedlope: Meer as 18-duisend atlete gaan na verwagting deelneem aan die 31ste Gun Run wat die naweek in Kaapstad plaasvind. Môre se wedlope behels ‘n landloop oor 17-kilometer vanaf Oranjezicht en korter wedlope vanaf Groenpunt, terwyl die halfmarathon oor 21,1-kilometer Sondag deur Groenpunt, Seepunt, Kampsbaai en Clifton sal kronkel. Padsluitings sal verskeie gebiede raak tussen vyf-uur en elf-uur soggens. Die stad moedig motoriste aan om versigtig te beplan en wens alle drawwers ‘n veilige, suksesvolle wedloop toe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-34 teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-181-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-653-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….