Nuus 18:00
BULLETIN 10 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD maak vordering ondanks uitdagings met agterstande
# VN-Toerisme kondig 100 beurse aan vir Suid-Afrikaanse jongmense
# En sokker: Minister McKenzie herbeklemtoon die waarde van die video-stelsel na Nigerië se omstrede doel teen Suid-Afrika
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het tussen April en Junie 15 strafregtelike skuldigbevindings verseker, insluitend moord, verkragting deur polisiebeamptes, aanranding en marteling. Die polisiewaghond het een-duisend-171 nuwe sake ontvang, hoofsaaklik in die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. OPOD se woordvoerder, Lizzy Suping, sê daar word beplan om 36 afgetrede speurders oor ‘n tydperk van drie jaar aan te stel om die agterstand van byna 15-duisend sake in brandpuntprovinsies aan te pak:
# COSATU het die tronkstraf van 20-jaar verwelkom wat aan sewe Chinese burgers opgelê is nadat hulle in die Hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind is aan mensehandel en kinderarbeid. Die buitelanders, wat in 2019 in hegtenis geneem is, het 91 Malawiese burgers, insluitend kinders, gedwing om lang ure onder gewapende bewaking te werk. Zanele Sabela van COSATU eis strenger werkplekinspeksies en prys die owerhede omdat hulle hierdie uitbuitende operasie in die kiem gesmoor het:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal vir Toerisme, Zurab Pololikashvili, het aangekondig dat 100 studiebeurse aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel is om onderwys en vaardigheidsontwikkeling in die toerismesektor te verhoog. Hy het op die Toerisme-ontwikkelingsberaad in Kaapstad gesê dis daarop gemik om die jeug te bemagtig om te floreer in ‘n hoogs-mededingende bedryf en inklusiewe groei te help aanvuur. Die beurse sal as deel van die breë strategie van VN-Toerisme programme aanvul soos die aanlyn akademie, die Toerismesentrum van Uitnemendheid in Zambië en die Kulinêre Kunste-akademie in Zimbabwe.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, beklemtoon die waarde van die video-assistentskeidsregter-stelsel na Nigerië se omstrede handdoel teen Suid-Afrika in gister se Wêreldbeker-kwalifiseerder in Bloemfontein. Die doel in die 42ste minuut het daartoe gelei dat die Super Eagles en Bafana Bafana met een-elk gelykop gespeel het. Suid-Afrika is ondanks die terugslag steeds bo-aan Groep C. McKenzie sê die plaaslike sokkerbeheerliggaam, SAFA, moet gedwing word om die video-stelsel in te stel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-266-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-652-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Realness Institute in vennootskap met The StoryBoard Collective en die Canada Media Fund, het die vier Afrika-deelnemers vir die 2025 AuthenticA Series Lab aangekondig. Hulle is Ghana se storieverteller Gamel Apalayine, die Nigeries-Britse digter en rolprentmaker Joladé Olusanya, die bekroonde Keniaanse draaiboekskrywer Mona Ombogo en die bekroonde Egipties-Kanadese rolprentmaker Reem Morsi. Die program gee draaiboekskrywers ‘n unieke geleentheid om hul oorspronklike idees in episodiese storievertelling oor enige genre te omskep. Die vier gaan aan drie byeenkomste in Suid-Afrika, Switserland en Frankryk deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….