Nuus 18:00
BULLETIN 8 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Alles is gereed vir die eerste getuie in die Madlanga-kommissie
# Uitspraak word voorbehou in die Lungu-familie se appèlaansoek teen repatriasie
# En die liggaam van ‘n vermiste Bloubergstrandse vlieërplankryer is gevind
# Die Madlanga-kommissie sê hy is gereed vir openbare sittings wat volgende Woensdag in die Brigitte Mabandla-justisiekollege in Pretoria begin. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, wat bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in wetstoepassing gemaak het, sal die eerste getuie wees. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het die jongste nuus oor die kommissie se gereedheid gegee en sê ‘n vertroulike blitslyn om inligting aan te meld, is vir die publiek in werking gestel:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in die geskil tussen die ontslape Zambiese oudpresident, Edgar Lungu, se familie en die Zambiese regering. Die familie het ‘n uitspraak betwis wat Zambië toelaat om sy liggaam te repatrieer vir ‘n staatsbegrafnis. Die regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, voer aan die weduwee se regte en Suid-Afrikaanse wetgewing moet in ag geneem word. Hy sê indien verlof tot appèl toegestaan word, kan die saak in die Appèlhof voortgaan:
# Die vlieërplankryer Graham Howes van Bloubergstrand in Kaapstad se liggaam is gevind ná ‘n uitgebreide see-, lug- en kuslynsoektog. Die 38-jarige is gisteraand as vermis aangemeld nadat hy nie huis toe gekom het nadat hy die middag vlieërplank gery het by Eden-on-the-Bay nie. Hy is laas gesien op ‘n blou en swart vlieërplank met ‘n wit vlieërseil in rooi gemerk en was geklee in ‘n swart duikpak. Die oorsaak van sy dood is onbekend en die owerhede gaan voort met die ondersoek.
Nuus uit die buiteland:
# Die Chinese president, Xi Jinping, sê BRICS-lande moet verenig om multi-lateralisme te verdedig, oop handel te bevorder en samewerking vir gedeelde ontwikkeling te versterk. Hy het met die hulp van ‘n tolk gepraat tydens die virtuele BRICS-leiersberaad en gewaarsku handelsoorloë en versperrings ontwrig die wêreldekonomie. Xi het lidlande aangespoor om saam te werk met die hervorming van wêreldbestuur, om die Wêreldhandelsorganisasie te ondersteun en inklusiewe, volhoubare groei te bevorder:
# Gholf: Die DP World-toerkampioene, Thriston Lawrence en Dylan Naidoo, sal aansluit by ‘n sterk Suid-Afrikaanse groep vir vanjaar se Nedbank-uitdaagtoernooi wat van 4 tot 7 Desember op die Gary Player-buiteklub by Sun City gespeel word. Onder die Suid-Afrikaanse uitdagers is die PGA Toerwenner Aldrich Potgieter, die veelvuldige DP World-toernooikampioen Christiaan Bezuidenhout, en die Sonskyntoer se Orde van Verdienste-kampioen, Daniel van Tonder. Met Lawrence, Potgieter en Bezuidenhout wat deelneem, sluit hierdie jaar se toernooi die top drie Suid-Afrikaners op die amptelike wêreldranglys in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-210-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-630-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….