Nuus 18:00
BULLETIN 5 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geen beurtkrag word in Eskom se somervooruitsigte voorspel nie
# ‘n Top-advokaat van Kaapstad, Norman Arendse gaan getuienis lei in die Parlement se Mkhwanazi-ondersoek
# En, die kabinet beskou Suid-Afrika se aanbied van die Krieket-wêreldbeker in 2027 as ‘n aandrywer van ekonomiese groei
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê geen beurtkrag word voorpel in Eskom se somervooruitsigte vanaf 1 September tot 31 Maart volgende jaar nie. Die stelsel het nou vermoë van 15-duisend megawatt, wat meer ruimte as die vorige drempels bied. Ramokgopa prys Eskom-prsoneel vir die ommeswaai, maar merk op sekere huishoudings sal ladingsvermindering ervaar weens munisipale infrastruktuuruitdagings. Hy verseker die publiek dat ladingsvermindering nie dieselfde is as beurtkrag nie:
# Die bekende Kaapstadse advokaat, Norman Arendse is aangestel as getuienisleier vir die Parlement se ad hoc-komitee wat die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings sal ondersoek. Arendse sal deur twee senior advokate bygestaan word tydens die sittings wat die week van 16 tot 22 September sal begin. Die komiteevoorsitter, Soviet Lekganyane, sê Mkhwanazi sal eers ná 24 September kan getuig, omdat hy vir die Madlanga-kommissie van ondersoek voorberei:
# Die gewapende vleuel van die Palestynse militante groep, Hamas, het vandag videomateriaal vrygestel wat oënskynlik twee lewende gyselaars wys wat gevange geneem is gedurende die aanval van 7 Oktober 2023 op Israel. Die videos is laat verlede maand in Gaza-stad geneem en wys ‘n gyselaar in ‘n motor wat deur ‘n woonbuurt met verwoeste geboue ry. In die video doen hy ‘n beroep op die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, om nie die beplande aanval om Gaza-stad oor te neem uit te voer nie. Die gyselaar wat later in die video met ‘n ander gevangene praat, sê hy is in Gaza-stad en die video is op 28 Augustus geneem.
# Krieket: Die Kabinet het die Internasionale Krieketraad se besluit verwelkom om die regte vir die aanbieding van die 2027-Krieketwêreldbekertoernooi aan Suid-Afrika toe te ken. Dit is nog ‘n mylpaal in die land se aansien as ‘n voorste gasheer van groot sportbyeenkomste. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê sy hoop voorbereidings vir die toernooi sal die ekonomie bevorder deur die opgradering van infrastruktuur, die ontwikkeling van toerisme, en werkskepping, wat Suid-Afrika se plek op die sportwêreldverhoog sal verstewig:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-246-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-592-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-38-sent per vat.
# En laastens, die Tony-bekroonde musiekblyspel Hamilton word dié naweek in teaters uitgereik. Hamilton is die verhaal van die Amerikaanse volkspionier Alexander Hamilton en sy betrokkenheid by die Amerikaanse Rewolusie. Die verhoogopvoering het 16 benoemings ontvang vir die Tony-toekennings in 2016, waarvan hy 11 gewen het, insluitend dié van Beste Musiekblyspel. Die fliek Hamilton kombineer die beste elemente van ‘n opvoering en film in ‘n mengsel van hip-hop, jazz, R&B en Broadway.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….