Nuus 18:00
BULLETIN 3 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Onderhoof van ‘n skool staan tereg op aanklagte van verkragting in Bronkhorstspruit
# Ford-, BMW-, VW- en Hino-voertuie word herroep oor veiligheidsfoute
# En krieket: Laura Wolvaardt lei ‘n groep van 15 Proteas na die Vroue-Wêreldbekertoernooi
# Die onderhoof van ‘n laerskool in Bronkhorstspruit het in die plaaslike Landdroshof verskyn op drie aanklagte van die verkragting van ‘n agtjarige leerder. Die beweerde mishandeling het aan die lig gekom toe die kind se ma ongewone gedrag opgemerk en by die polisie aangemeld het. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak is tot volgende Donderdag uitgestel vir ‘n borgtogaansoek:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het herroepings aangekondig vir Ford Mustang, Ford Transit Custom, BMW X3, Volkswagen Polo en die Hino 500-reeks busse. Dis weens kritieke veiligheidsgebreke, insluitend foutiewe brandstofpompe, lugsakke, kopstukke, agter-asse en stuur-onderdele. Phetho Ntaba van die kommissie moedig eienaars aan om hulle voertuie na gemagtigde handelaars te neem vir gratis herstelwerk om veiligheid te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Fotovoltaïese Nywerhede sê Eskom het 100 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag bereik. Die mylpaal word toegeskryf aan die kragvoorsiener se verbeterings en die vinnige groei van sonkrag, wat die vraag op die nasionale netwerk verminder en energiesekerheid versterk het. Die vereniging se uitvoerende hoof, Rethabile Melamu, versoek verdere belegging in sonkrag- en bergingstegnologieë om bestendige en volhoubare kragvoorsiening vir Suid-Afrikaners te verseker.
# Krieket: Laura Wolvaardt lei ‘n groep van 15 Proteas na die Vroue-eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka, wat die 30ste begin. Sy sal kan staatmaak op die ervaring van spelers soos Chloé Tryon, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Suné Luus en die voorslag-kolwer Tazmin Brits. Die 17-jarige Karabo Meso is een van die paaltjiewagters en die 20-jarige veelsydige Miané Smit is die reisende reserwe. Suid-Afrika se eerste wedstryd is op 3 Oktober teen Engeland in Guwahati.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-334-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-561-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, die Europese Unie het jel-naelpolitoer wat die chemiese middel TPO bevat in naelsalonne verbied oor vrugbaarheids- en kankergevare. Die middel verhard die naelpolitoer onder ‘n ultravioletlig, maar word tans as giftig beskou vir menslike voortplanting. Salonne in die EU moet onmiddellik ophou om TPO-produkte te gebruik en van bestaande voorraad ontslae raak. Vervaardigers sal jel-naelmiddels met veiliger alternatiewe vervang. Die verbod is tans van krag in die EU, maar gesondheidskenners vra versigtigheid te midde van toenemende kommer oor giftige chemikalieë in alledaagse skoonheidsmiddels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….