Nuus 18:00
BULLETIN 29 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola benadruk die deel van intelligensie om misdaad te bestry
# Trump onttrek Kamala Harris se veiligheidsbeskerming
# En rugby: Mpupha beskou Sondag se Wêreldbeker-wedstryd teen Italië as die grootste wedstryd van die Bok-vroue se lewens
# Nasionale polisiekommissaris Fanni Masemola het die behoefte beklemtoon aan die deel van intelligensie en samewerking tussen lande om misdaad te bestry. Hy het gepraat met die afsluiting van die 27ste Interpol Afrika-streekkonferensie in Kaapstad. Masemola het die omvang benadruk van misdaaduitdagings waarmee wetstoepassing in Afrika en wêreldwyd te kampe het . Hy sê dit sluit in mense- en dwelmhandel, kubermisdaad, natuurlewe-misdaad en onwettige finansiële vloei soos geldwassery en belastingontduiking:
# KwaZulu-Natalse polisiebeamptes is geskors hangende ‘n interne ondersoek nadat hulle ‘n leerder met ‘n ampsvoertuig begelei het na ‘n matriekafskeid in Estcourt. Provinsiale kommissaris Nhlanhla Mkhwanazi het gelas dat hulle tydelik verwyder, dissiplinêre stappe gedoen en misbruikte staatshulpbronne terugbetaal word. ‘n Video op sosiale media toon die gewapende beamptes wat aan diens was, maar hulle pligte verwaarloos het. Mhkwanazi het die misbruik van voertuie veroordeel en gewaarsku dat staatshulpbronne slegs vir amptelike pligte gebruik moet word en nie vir persoonlike gewin nie.
# Die boorgatveld en watersuiweringsprojek in Philippi sal Kaapstad se drinkwatervoorraad vanaf 2028 ‘n hupstoot gee. Die aanleg, wat tans in aanbou is, sal daagliks tien-miljoen liter skoon water lewer deur middel van gevorderde filtrerings-tegnologie. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die projek is deel van die stad se plan om teen 2030 300-miljoen-liter water per dag uit nuwe bronne by te voeg terwyl grondwater beskerm en veerkragtigheid teen klimaatsverandering versterk word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Trump-administrasie het die voormalige visepresident, Kamala Harris, se Geheime Diens-sekerheidsbeskerming teruggetrek. Die administrasie het ‘n verlenging opgeskort wat deur oudpresident Joe Biden goedgekeur is vir die verslane Demokratiese presidentskandidaat. Haar gebruiklike beskermingstydperk van ses maande het op 21 Julie verstryk. Hoewel Harris ‘n lae profiel handhaaf sedert sy die verkiesing verloor het, beplan sy ‘n promosietoer vir haar boek oor haar mislukte veldtog. Dit sal haar dwing om gereeld in die openbaar te verskyn. Die boek word op 23 September bekendgestel.
# Rugby: Die Springbok-vroue se senter, Zintle Mpupha, beskou Sondag se Wêreldbeker-wedstryd teen Italië in York, Engeland, as die grootste wedstryd van hul lewens. Suid-Afrika sal in ‘n sterk posisie wees om vir die kwarteindronde te kwalifiseer as hulle die Italianers klop nadat hulle Brasilië in hulle eerste wedstryd 66-6 afgeransel het. Die Bokke is 12de op die wêreldranglys en Italië agtste. Mpupha sê Italië is ‘n baie bekwame span met goeie aanvallende vaardighede, en sy verwag ‘n wonderlike wedstryd. Afskop is Sondagmiddag half-vyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-479-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-434-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….