Nuus 18:00
BULLETIN 28 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ford Suid-Afrika wil meer as 470 werkers aflê in Pretoria en Gqeberha
# Die DA eis antwoorde ná Nersa se fout van 54-miljard-rand met Eskom se tariewe
# En die EU ontbied Rusland se gesant in Brussel ná die aanval op sy diplomatieke sending in Oekraïne
# Die vakbond Solidariteit sê Ford Suid-Afrika het ’n amptelike kennisgewing gestuur oor sy voorneme om meer as 470 werknemers af te lê. Volgens die kennisgewing volg die werksverliese op ’n herbelyning van Ford se produksievermoë wat met die huidige en verwagte markvraag moet ooreenstem. Die plan is om 391 operateursposte in die Silverton-voertuigfabriek in Pretoria te verminder, 73 in die Struandale-enjinfabriek in Gqeberha en tien administratiewe poste. Solidariteit sê hy beskou dié aankondiging as die begin van moontlike groter werksverliese in die hele motorbedryf.
# Die DA veroordeel die energiereguleerder Nersa se tarieffout van 54-miljard-rand, wat elektrisiteitspryse nog verder sal opstoot. Die party sê foute in Eskom se waardevermindering en bateberekening beteken verbruikers sal die volgende twee boekjare bykomende verhogings moet trotseer. Die DA-lid, Kevin Mileham, het die Parlement se portefeuljekomitee oor Energie en Elektrisiteit gevra om vas te stel hoe die fout gemaak is en soortgelyke foute te voorkom:
# Die Statistieke-agentskap in Namibië sê die land het in Junie ‘n handelsoorskot van 856-miljoen-rand aangeteken. Die uitvoere was hoofsaaklik minerale, insluitend uraan, goud wat nie as reserwebate gehou word nie, diamante, koper en vis as die enigste produk wat nie ‘n mineraal is nie. China is die voorste uitvoerbestemming, terwyl Suid-Afrika die hoofbron van invoere bly. Die woordvoerder, Mirjam Shihepo, sê heruitvoere het op ‘n maand-grondslag met vyf-persent gedaal, en byna agt-persent op ‘n jaargrondslag:
# Die Europese Unie het Rusland se gesant in Brussel ontbied nadat minstens 14 mense dood en die EU se diplomatieke sending in die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, beskadig is in ‘n reuse-aanval. Die hoof van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê dit bewys die Kremlin sal nie huiwer om sy buurland te terroriseer nie, maar blindelings burgerlikes sal doodmaak en selfs die EU sal teiken. EU-amptenare het ‘n foto van ‘n kantoor gedeel met die vensters wat uitgeblaas is, die stukkende plafon en puin op die vloer.
# Rugby: Die hoofafrigter van Wallis se vrouespan, Sean Lynn, het groot veranderings aan sy span aangebring vir Saterdag se belangrike Wêreldbeker-groepswedstryd teen Kanada in Manchester, Engeland. Wallis moet wen om die groepsfase te oorleef nadat hulle in hul openingswedstryd 38-8 teen Skotland verloor het. Daar is sewe veranderings aan die beginspan, met Bethan Lewis wat die eerste keer die span sal aanvoer, terwyl die bank ook heeltemal geskommel is. Wallis pak Fidji in hul laaste groepwedstryd, met die voorste twee spanne wat kwalifiseer vir die kwarteindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-712-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-410-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….