Nuus 18:00
BULLETIN 26 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie bevestig die Khampepe- en die Madlanga-kommissie is reg om te begin werk
# ‘n Opname toon huisbraak is die algemeenste huishoudelike misdaad
# En die aanklaer vra die doodstraf vir oudpresident Joseph Kabila van die DRK
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het bevestig die Khampepe- sowel as die Madlanga-kommissie is ten volle gereed om met hul werk voort te gaan. Dit volg op die uitstel van die Madlanga-kommissie wat bewerings van politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Kubayi het bevestig die Khampepe-kommissie wat pogings ondersoek om apartheid-era-vervolgings te dwarsboom, soos beplan in Johannesburg sal begin, terwyl die Madlanga-kommissie se vergaderplek onveranderd bly:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se skielike ontbinding van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad dui op ‘n kommerwekkende verbrokkeling van bestuur by staatsinstellings. Volgens die organisasie is die raad, wat besig was om ernstige wangedrag deur die uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, aan te pak, as gevolg van tegniese redes verwyder, wat die sektor kwesbaar laat. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die skuif skep onsekerheid in die toerismesektor:
# Statistieke Suid-Afrika se Bestuurs-, Openbare Veiligheids- en Geregtigheids-opname dui aan huisbraak bly die algemeenste misdaad in die land. Die direkteur, Boitumelo Mooketsi, sê 1,1-miljoen huishoudings is in 2024/25 geraak deur 1,5-miljoen voorvalle, met 43-persent wat by die polisie aangemeld is. Sy sê huisroof was die tweede algemeenste met 213-duisend huishoudings wat geraak is en dié misdade het dikwels gepaardgegaan met die gebruik van vuurwapens:
Nuus uit die buiteland:
# Die millitêre aanklaer van die Demokratiese Republiek die Kongo vra die doodstraf vir oudpresident Joseph Kabila. Hy word in sy afwesigheid verhoor op aanklagte van oorlogsmisdade, hoogverraad en steun aan die M23-rebelle. Bewerings sluit in moord, marteling, verkragting en ‘n komplot teen president Félix Tshisekedi se regering. Kabila, wat sedert 2023 oorsee woon, ontken die aanklagte en sy party sê die verhoor is polities-gemotiveerd. Die saak volg na die DRK se opheffing van die moratorium op die doodstraf weens die noodsaaklikheid om verraad en terreur te bestry.
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-twee, Petra Kvitova van die Tsjeggiese Republiek, het uitgetree na ‘n loopbaan van meer as twee dekades. Die tweemalige Wimbledon-kampioen het haar laaste beroepswedstryd teen Diane Parry van Frankryk gespeel in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope, waar sy in skoon stelle verloor het. Die 35-jarige Kvitova het onlangs na mededingende tennis teruggekeer na kraamverlof van 17-maande. Sy het tydens haar loopbaan 31 titels gewen, waaronder Wimbledon in 2011 en weer drie jaar later.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-367-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-375-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….