Nuus 18:00
BULLETIN 25 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bheki Cele is onder die loep oor oproepe na die misdaadverdagte Vusimusi “Cat” Matlala
# Die Lughawensmaatskappy stuur ‘n belegging van 21,7-miljard-rand van stapel
# En minstens 15 mense sterf in Israelse lugaanvalle op ‘n hospitaal in Gaza
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, is weer onder die loep nadat berigte onthul het hy het tien onbeantwoorde oproepe gemaak na die tendermagnaat Vusimusi ‘Cat’ Matlala enkele dae voor sy inhegtenisneming. News24 berig Cele wou nie vrae hieroor beantwoord nie. Matlala, wat teregstaan op aanklagte van bedrog en korrupsie oor ‘n gekanselleerde polisie-kontrak ter waarde van 360-miljoen-rand, het Cele vroeër by sy luukse dakwoonstel in Pretoria onthaal. Ontleders sê die oproepe skep die vermoede van politieke bande, wat die druk op Cele verhoog voordat hy voor die ANC se Integriteitskommissie verskyn.
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika gaan oor ‘n tydperk van vyf jaar 21,7-miljard rand belê, met die fokus op OR Tambo, Kaapstad en streekslughawens. Die uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, lig vernuwing- en digitaliseringsvennootskappe met die Wetenskaplike en Nywerheids-navorsingsraad en The Innovation Hub uit vir lugvaartnavorsing, voorspellende instandhouding en biometriese passasiersreise. Die plan versterk ook die transformasie van die voorsieningsketting en bevorder hernubare energie en wêreldwye internetverbinding. Mpofu sê Suid-Afrika bly veerkragtig ondanks globale bedreigings:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 20 mense, insluitend vier joernaliste, is volgens berigte dood in Israelse aanvalle op ‘n hospitaal in die suidelike Gazastrook. ‘n Kameraman van Reuters en ‘n joernalis van Associated Press het gesterf in die aanval op die Nasser-hospitaal, en ‘n ander het glo vir Al Jazeera gewerk. Verskeie mense is in die aanvanklike aanval dood en ander in ‘n tweede aanval wat plaasgevind het terwyl reddingswerkers op die toneel was. Dit volg twee weke nadat ses joernaliste in ‘n Israelse aanval naby die al-Shifa-hospitaal in Gaza-stad dood is.
# Sokker: ‘n Onsekere toekoms lê voor vir Kobbie Mainoo by Manchester United nadat afrigter, Ruben Amorim bekend gemaak het dat die middelveldspeler met sy kaptein, Bruno Fernandes, meeding vir ‘n plek in die span. Mainoo, wat vir Engeland speel, is nog nie in die nuwe Premierliga-seisoen ingespan nie. Hy was afwesig tydens die openingswedstryd wat Arsenal 1-nul gewen het, en Sondag se gelykopstryd van 1-elk teen Fulham. Amorim het die 20-jarige Mainoo oor die hoof gesien by Craven Cottage toe United probeer het om ‘n wendoel aan te teken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-62-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-371-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het sy jongste publikasie oor die Moederstad se uitvoerende kuns- en kultuurtoneel bekendgestel. Die brosjure bevat inligting oor teaters, kunsgalerye en klassieke musiek-aanbiedings om die stad se kleurvolle kultuurlandskap te beklemtoon. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die publikasie spruit uit die stad se bevindings dat reisigers toenemend bestemmings wil besoek waar hulle Kaapstad se kenmerkende karakter kan ervaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….