Nuus 18:00
BULLETIN 22 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê die skrapping van adjunkministerposte kan die belastingbetalers miljoene-rand bespaar
# AfriForum daag Nersa voor die hof oor sy gebrekkige kragtariefproses
# En krieket: Nuweland gaan in Januarie die eindstryd van SA20 se vierde seisoen aanbied
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het sy steun uitgespreek vir ActionSA se voorgestelde wetsontwerp in die Parlement wat die uitvoerende gesag en kabinetstruktuur wil hervorm. Die 22ste Wysigingswetsontwerp op die Grondwet poog om adjunkministers te skrap, parlementêre aanstellings na te gaan en die Nasionale Vergadering toe te laat om ministers met mosies van wantroue te verwyder. OUTA se woordvoerder, Rachel Fischer, sê adjunkministers kos belastingbetalers tans meer as 287-miljoen-rand per jaar, bykomende voordele uitgesluit:
# AfriForum het die Hooggeregshof in Pretoria genader om die energiereguleerder, Nersa, se goedkeuringsproses van munisipale tariewe ongeldig te laat verklaar. Die organisasie sê daar was nie genoeg tyd vir openbare kommentaar nie, en die meeste minusipaliteite het versuim om behoorlike koste-van-voorsieningstudies in te dien, ondanks Nersa se bewering. Woordvoerder Morné Mostert sê AfriForum vra die hof om te verseker dat inwoners behoorlik oor die tarieftoepassings ingelig word:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê infrastruktuur bly een van sy grootste uitdagings. LUR Matome Chiloane het maatreëls uiteengesit, insluitend meer as twee-duisend selfgeboude-klaskamers sedert 2020, wat plek vir meer as 76-duisend leerders bied. Hy sê ‘n verdere duisend-745 klaskamers word gebou en meer mobiele klaskamers is na 223 skole gestuur as ‘n tydelike noodmaatreël om oorvol klaskamers te verminder:
# Krieket: Die eindstryd van die vierdie seisoen van die SA20 sal op 25 Januarie volgende jaar gespeel word op Nuweland – tuisveld van die verdedigende kampioen, M-I Cape Town. Die liga se kommissaris, Graeme Smith, het ook aangekondig dat die drie uitspeelwedstryde in Durban, Centurion en op die Wanderers in Johannesburg gespeel sal word. Die spelerveiling sal op 9 September plaasvind waar ‘n maksimum van 131-miljoen-rand bestee mag word. Die registrasieproses vir kaartjie-verkope sluit die 15de en die toernooi begin op 26 Desember.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-904-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die eThekwini-munisipaliteit sê die 14de Durbanse Modeskou beloof om ‘n opwindende vertoning van talentvolle modeontwerpers en modelle te wees. Die kern van hierdie projek is die Klas van 2025 se modelopleiding en oefenkamp wat tans in volle swang is. Die huidige klas bestaan uit 14 vroue- en tien mansmodelle. Deelnemer Mandisa Khuboni sê sy is opgewonde om met haar talent te spog op die skou se loopplank-vertonings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….