Nuus 18:00
BULLETIN 21 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA beloof burger-gefokusde voorstelle om die nasionale dialoog te versterk
# Krieket: Die Proteas kan môre die eendagreeks teen Australië beklink
# En die laaste Britse een-pond muntstukke met die koningin se gesig op kom in sirkulasie
# Build One South Africa vra deursigtigheid en ‘n sterk ekonomiese fokus vir die nasionale dialoog. Die party glo die proses moet werklik inklusief wees en voorkeur gee aan oplossings wat ekonomiese groei, werkskepping en die verbetering van lewensomstandighede bevorder. BOSA sal met die burgerlike gemeenskap, die sakewêreld en ander belanghebbendes skakel om te verseker dat hulle voorstelle die nasionale dialoog versterk. Partyleier Mmusi Maimane waarsku dat die dialoog nie geloofwaardigheid het sonder duidelike planne, aanspreeklikheid of betekenisvolle openbare betrokkenheid nie:
# Die DA het die vertrek van die voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy, Helen Botes, verwelkom. Die DA se koukusleier in die metro, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê haar vertrek is voortuitgang, maar nie die einde van aanspreekliheid nie. Sy sê die party het al lankal die korrupsie, wanbestuur en mislukkings onder Botes uitgewys. Sy sê terwyl straf- en siviele sake aan die gang is, dring sy daarop aan dat Botes steeds verantwoording moet doen:
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee op die Staatsdiens, Jan de Villiers, sê spookwerkers en die onwettige verkoop van poste sal nie geduld word nie. Die komitee vra die Departement van Basiese Onderwys sowel as provinsiale departemente om rekenskap te gee van wat gedoen is sedert die Volmink-verslag van 2016. De Villiers bevestig die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys sal teen Oktober opvoeders landwyd nagaan. Hy beklemtoon spookwerkers en korrupsie sal uitgeroei word en die geld sal na klaskamers, hospitale en gemeenskappe herlei word.
# Krieket: Die Proteas kan môre in Mackay die eendagreeks teen Australië beklink na Dinsdag se oortuigende oorwinning in die eerste kragmeting in Cairns. Aiden Markram, kaptein Temba Bavuma en Matthew Breetzke se vyftigtalle het Suid-Afrika tot ‘n reusetelling van 296 vir agt geneem, waarna die draaibouler Keshav Maharaj die eerste keer in die eendag-internasionale spel vyf paaltjies platgetrek het. Die gashere is vir 198 uitgeboul. Die Proteas se toer eindig Sondag met die laaste wedstryd, ook in Mackay, nadat Australië die T20-reeks 2-1 gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-623-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, die laaste aantal een-pond muntstukke met die gesig van wyle koningin Elizabeth die Tweede kom in sirkulasie in Brittanje, met meer as 23-miljoen daarvan bestem vir kasregisters en mense se beursies. Die Koninklike Munt sê die vrystelling van die laaste Elizabeth die Tweede-muntstukke, wat 2021 en 2022 gedateer is, verteenwoordig ‘n deurslaggewende oomblik in die geskiedenis. ‘n Verdere 7,5-miljoen nuwe muntstukke wat koning Charles die Derde uitbeeld, kom ook in sirkulasie. Sy gesig pronk sedert 2023 op Britse muntstukke, maar slegs op die een-pond- en die 50-pennie-muntstuk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….