Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien etiekklagte in teen Nzimande oor gunslone
# ‘n Opvoedkundige sielkundige vra ouers om leerders wat swak presteer te help
# En, rugby: Nog ‘n Springbok-Wêreldbeker-wenner word pa
# Die DA het ‘n etiekklagte teen die minister van Hoёr Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, ingedien waarin hy aangekla word dat hy gunslone ontvang het van ʼn diensverskaffer van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die party versoek die gesamentlike parlementere komitee vir Etiek en Ledebelange om die moontlike oortreding van parlementêre etiek en die wanbestuur van openbare fondse te ondersoek. Chantel King van die DA sê Nzimande ontken die bewerings van die Organisasie teen Belastingmisbruik, maar het nog geen bewyse verskaf nie. King eis sy afdanking:
# ‘n Opvoedkundige sielkundige, Nicola Buhr, vra ouers om leerders te ondersteun wat nie goed presteer het in 2023 se matriekeksamen nie. Sy beklemtoon die moontlike gevolge vir hul geestesgesondheid en raai ouers aan om met hul kinders te kommunikeer ten einde hul opregte gevoelens oor die uitslae te verstaan. Buhr het aan eNCA gesê begrip sal help om die toepaslike optrede te bepaal om die nodige ondersteuning te gee:
# Die leier van die EFF, Julius Malema, het Joseph Boakai se inhuldiging as president van Liberië bygewoon. Hy het in November die verkiesing teen George Weah gewen. Malema het Boakai se administrasie aangemoedig om hulle verpligtinge teenoor die mense van Liberië na te kom. Hy het Weah terselfdertyd gekritiseer dat hy hom nie aan die wil van die mense gesteur het nie. Malema het ook herbevestig die EFF se tak in Liberië sal met Boakai se administrasie praat om doeltreffende leierskap te verseker. Boakai sal vir ‘n termyn van ses jaar dien.
# Krieket: Die Australiese veelsydige speler, Glenn Maxwell, word ondersoek nadat hy beseer is tydens ʼn alkohol-verwante voorval. Hy was volgens berigte by ʼn konsert in Adelaide toe ʼn ambulans ontbied is en was ʼn kort tydjie in die hospitaal. Maxwell was in die stad vir ʼn gholftoernooi vir bekendes. Krieket Australië ontken die voorval is die rede waarom hy weggelaat is uit die nasionale eendag-groep vir ʼn reeks van drie wedstryde teen die Windies en sê die besluit het te doen met sy individuele bestuursplan. Maxwell sal na verwagting terugkeer vir die T20-reeks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-760-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Nog ‘n Springbok-Wêreldbekerwenner gaan pa word. Die skrumskakel, Faf de Klerk, se vrou, Miné, is glo swanger met die egpaar se eersteling. Die Bok-stut Vincent Koch se vrou, Jandré, het die nuus op Instagram gedeel. De Klerk en Miné is in Oktober 2022 in Franschhoek in die Boland getroud. Dit volg nadat Eben Etzebeth en sy vrou, Anlia, Saterdag aangekondig het hulle eersteling, ‘n dogtertjie, is verlede week gebore, terwyl die losskakel Handré Pollard en skrumskakel Herschel Jantjies se vrouens ook swanger is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….