Nuus 18:00
BULLETIN 29 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gelas ‘n onafhanklike mediese ondersoek vir Suliman Carrim
# SAMWU verwelkom Tesourie se besluit om 7,1-miljard-rand se munisipale fondse vry te stel
# En, ActionSA sê Suid-Afrika benodig beheerde, wettige immigrasie
# Die Madlanga-kommissie het die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim se aansoek om sy getuienis onbepaald uit te stel, van die hand gewys. Carrim, wat in April ‘n hartaanval gehad het, voer aan hy is medies ongeskik om te getuig. Getuienisleier Adila Hassim het die uitstel teengestaan en aangevoer kringtelevisiebeeldmateriaal en selfoondata stem nie ooreen met bewerings dat Carrim se bewegings ernstig beperk is nie. Die kommissie se voorsitter, afgetrede regter Mbuyiseli Madlanga, het gelas Carrim moet op 14 Augustus voor die kommissie verskyn:
Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, het intussen voor die Madlanga-kommissie erken die inhegtenisneming van die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en sy medebeskuldigdes, was magsmisbruik. Johnson het aanvaar minder indringende maatreëls, soos dagvaardings, sou hul hofbywoning kon verseker het. Sy het met kommissaris Sesi Baloti saamgestem die arrestasies was onnodig en toegegee arrestasiebevoegdhede is misbruik:
# Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond het die Nasionale Tesourie se besluit verwelkom om Julie se munisipale befondsing vry te stel. Volgens die minister van Finansies, Enoch Godongwana, is die rede vir die vrystelling van die oorblywende 7,1-miljard-rand kommer oor die uitwerking daarvan op dienslewering. SAMWU se hoofsekretaris, Dumisane Magagula, sê die Tesourie se besluit om toekennings in die eerste plek terug te hou, was roekeloos, swak deurdag en sonder enige inagneming van die realiteite waarmee munisipaliteite, werkers en gemeenskappe te doen het:
# ActionSA sê Suid-Afrika hoef nie te kies tussen ekonomiese groei en sterker immigrasie-afdwinging nie. Mongezi Ntsebenzo van die party voer aan behoorlik-bestuurde, wettige migrasie kan die ekonomie versterk, maar die regering moet veiligheid by grense verbeter en immigrasiewette afdwing. Hy sê wettige migrasie en onwettige immigrasie moenie dieselfde behandel word nie. Ntsebenzo voeg by die regering moet visum-administrasie verbeter, grensveiligheid versterk en strenger optree teen werkgewers wat wetend ongedokumenteerde migrante aanstel.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam, UEFA, oorweeg glo ‘n boikot van toekomstige FIFA-byeenkomste as president Gianni Infantini voortgaan met planne om onderafdelings van die wêreldliggaam aan privaat beleggers te verkoop. FIFA wil vanjaar ‘n geraamde 70,36-miljard-rand verdien deur ‘n minderheidsaandeel van 20-persent te verkoop in ‘n nuwe filiaal, FIFA Forward Enterprise wat ‘n geskatte 334,46-miljard-rand werd is. UEFA sê die siel en bestuur van die sport is nie bates om te verkoop nie, veral sonder enige deursigtigheid oor wie finansieel sal baatvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-318-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-6-dollar-en-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….