Nuus 18:00
BULLETIN 14 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Naamsa waarsku Amerikaanse tariewe kan nywerheidspilpunte in spookdorpe verander
# ‘n Nuwe opname dui aan dat vertroue in die polisie tot geskiedkundige lae vlakke verkrummel het
# En Chinese swemmers is die meeste getoets vir opkikkers op die huidige Wêreldwatersport-kampioenskap in Singapoer
# Die Motorbedryfsraad, Naamsa, sê die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse voertuiguitvoere kan belangrike nywerheidspilpunte soos Oos-Londen in die Oos-Kaap in spookdorpe verander. Naamsa verwelkom die regering se voortgesette diplomatieke pogings, en het ‘n belastingvrye kwota van 40-duisend voertuie per jaar voorgestel om die Amerikaanse uitvoermark te beskerm. Naamsa se uitvoerende hoof, Mikel Mabasa, het albei regerings aangespoor om die handelsonderhandelings te bespoedig om langtermyn skade aan die vervaardigingsbedryf te voorkom.
# Die vakbondfederasie Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê die Nasionale Vervolgingsgesag het die volste reg om aanklagte in te dien teen ministers wat daarvan beskuldig word dat hulle die Parlement mislei het. ‘n Kommissie van ondersoek begin in Augustus na aanleiding van bewerings teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof geplaas is. Vavi het aan Newzroom Afrika gesê daar is prima facie-bewyse, en hy glo president Cyril Ramaphosa moes die betrokke ministers geskors het:
Die nuutse meningspeiling van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing toon intussen openbare vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens het tot sy laagste vlak in 27-jaar gedaal. Die opname oor sosiale sienings wys dat slegs 22-persent van volwassenes die polisie vertrou, terwyl wantroue tot 62-persent gestyg het. Vertroue het sedert 2011 afgeneem, met ‘n skerp afname na die Marikana-slagting, die onruste in Julie 2021 en korrupsie-bewerings wat vermeerder. Alle provinsies dui aan dat vertroue nou minder as 30-persent is, met Gauteng en KwaZulu-Natal wat albei slegs 18-persent vertroue aandui.
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Menslike Nedersettings het die aankoop van Montclair Lodge van Transnet vir 33-miljoen-rand bevestig om vloedslagoffers te huisves. Die LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê die fasiliteit met 268 kamers en 600 beddens sal teen ‘n koste van 35-miljoen-rand opgeknap word en teen Desember of Januarie 2026 gereed wees. Hy het bevestig dat ‘n ingenieur die eiendom teen einde Julie sal ondersoek terwyl die Behuisingsontwikkelingsagentskap die fasiliteit sal bestuur:
# Swem: ‘n Verslag deur die Watersport-Integriteitseenheid dui aan dat Chinese swemmers meer toetsings vir opkikkergebruik ondergaan het as enige ander nasie tydens die huidige Wêreldwatersport-kampioenskap in Singapoer. Sedert 1 Januarie het Chinese swemmers gemiddeld 8,8 toetse elk ondergaan, Amerikaanse swemmers 4,1, Britse swemmers 2,2 en neutrale atlete, meestal uit Rusland, gemiddeld 8,2. Meer as vier-duisend toetse is reeds gedoen. Die toetsing volg na ‘n ondersoek van Chinese spanlede na onthullings oor opkikkergebruik in 2021. Toetse sal deurlopend uitgevoer word tot die einde van die kompetisie op 22 Augustus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-653-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….