Nuus 18:00
BULLETIN 18 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Putin lig Ramaphosa in oor sy gesprek met Trump
# Die korrupsiesaak teen Mapisa-Nqakula word uitgestel tot November
# En rugby: ‘n Groot terugslag vir die Bokke na hulle skandes op Ellispark
# Die Russiese president, Vladimir Putin het president Cyril Ramaphosa vandag ingelig oor sy onlangse beraad met president Donald Trump van die VSA, waar albei leiers aangedui het hulle steun dialoog om die konflik in Oekraïne te beeïndig. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa en Putin het saamgestem om kommunikasiekanale oop te hou en op gebiede van gemeenskaplike belang saam te werk:
# Die Ministerie van Landbou sê Suid-Afrikaanse boere het vanaf April tot Junie sterk Amerikaanse uitvoere getoon, met uitvoere wat tot meer as twee-miljard-rand gestyg het, ‘n toename van 26-persent vanaf verlede jaar. Sitrus, druiwe, appels, pere, neute en wyn het heel voor gestaan, ondersteun deur groot oeste en doeltreffende hawens. Die ministerie se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die Amerikaanse tarief van 30-persent toon ‘n behoefte om markte uit te brei en langtermyn-handelsooreenkomste te verseker om boere en die landbousektor te beskerm.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die korrupsiesaak teen die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, tot 21 November uitgestel om haar regsverteenwoordiger tyd te gee om die dossier te bestudeer wat die staat voorsien het. Sy staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en geldwassery, insluitend dat sy ‘n beweerde bedrag van 4.5-miljoen-rand ontvang het waarvan 2,1-miljoen-rand in kontant was. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê haar regspan sal vertoë by die nasionale direkteur van Openbare Vervolging indien:
# Rugby: Nog ‘n groot terugslag het die Springbokke getref na die vernederende nederlaag teen die Wallabies, met die nuus dat kaptein Siya Kolisi en drie ander sleutelspelers nie in Saterdag se Rugbykampioenskaps-toets teen Australië in Kaapstad sal kan speel nie. Kolisi se kniebesering kan hom ‘n maand buite aksie hou en daar is twyfel of hy reg sal wees vir die twee wedstryde teen die All Blacks in Nieu-Seeland. Pieter-Steph du Toit het harsingskudding opgedoen, terwyl die vleuels Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe ook beseer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-410-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, die polisie in Dubai het drie diewe vasgetrek slegs ure nadat hulle ‘n baie seldsame pienk diamant van 440-miljoen-rand gesteel het. ‘n Diamanthandelaar wat die edelsteen uit Europa gebring het, is na ‘n villa gelok deur ‘n misdaadbende wat voorgegee het ‘n ryk kliënt wil dit besigtig. Die edelsteen is egter gesteel toe die handelaar vir die besigtiging opgedaag het. Die polisie sê drie mense uit ‘n onbekende Asiatiese land is binne drie uur aangekeer danksy die optrede van spesialis- en veldspanne wat die nuutste kunsmatige intelligensie-tegnologie gebruik het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….