Nuus 18:00
BULLETIN 15 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA daag die voormalige hoof van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy voor die hof oor die noodlottige Usindiso-brand
# ‘n Reëlingskomitee word verkies om die Nasionale Dialoog te lei
# En die nuwe geslag kanker-medisyne kan in die ruimte vervaardig word
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het regstappe ingestel in die Hooggeregshof in Johannesburg om die voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy, Helen Botes, tot misdadige direkteur te laat verklaar. Die organisasie verwys na haar beweerde nalatigheid in die bestuur van die Usindiso-gebou, waar minstens 76 mense in Augustus 2023 in ‘n brand gesterf het. Stefanie Fick van OUTA sê Botes het haar posisie misbruik en versuim om openbare besittings te beskerm, tot nadeel van die stad en sy inwoners:
# President Cyril Ramaphosa het bevestig dat ‘n reëlingskomitee bestaande uit burgers vandag gekies sal word om die Nasionale Dialoog te lei. Ramaphosa het by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria gesê die dialoog sal teen die laagste moontlike koste aangebied word met koste-besparingsmaatreëls wat in werking gestel is. Hy het UNISA geloof dat hulle die lokaal gratis beskikbaar gestel het en sê toekomstige dialoë sal by skole, kerke, en selfs buitelugpersele gehou word om kostes te beperk:
# Die vakverbond Saftu dring aan op die hervorming van openbare vervoer as ‘n geïntegreerde vervoernetwerk waar taxis dien as voerdienste, e-taxis regverdig gereguleer word en pendeldienste bekostigbaar, veilig en betroubaar is. Woordvoerder Asive Dyani het verwys na die moord op ‘n e-taxibestuurder in Pimville, Soweto, en sê die geweld teen e-taxibestuurders is deel van ‘n stelselmatige patroon van intimidasie en teistering deur sekere taxi-operateurs:
# Rugby: Suid-Afrika se twee spanne is oorgehaal vir môre se laaste wedstryde van die Onder-18 Internasionale Reeks in die Paarl. Die afrigters het verskeie veranderings aangebring om meer spelers ‘n kans te gee om op ‘n hoër vlak te speel. Die aksie begin 11.30 wanneer die SA onder-18 ‘A’ span teen Frankryk speel, gevolg deur die kragmeting tussen Ierland en Georgië. Die SA Onder-18 span gaan daarna probeer om sy derde oorwinnning van die toernooi te behaal in die hoofwedstryd teen Engeland om 3.30 die middag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-en-16-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-80-sent per vat.
# En laastens, ‘n biotegnologie-onderneming in Londen, BioOrbit, ondersoek die moontlikheid om kankerbestrydende medisyne in die ruimte te laat vervaardig waar swaartekrag nie sal inmeng met die proses om die medisyne in behoorlike kristalle te omskep nie. Pasiënte kan dit dan self inspuit en sal nie hoef hospitaal toe te gaan en ure lank te wag vir die middel om na die bloedstroom oorgedra te word nie. ‘n Woordvoerder van BioOrbit sê hulle berei die eerste besending medisyne voor wat volgende maand na die Internasionale Ruimtestasie gestuur sal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….