Nuus 18:00
BULLETIN 8 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Godlimpi herbevestig Suid-Afrika beplan om handelsbetrekkinge met Amerika te herstel
# Vyf Israelse soldate sterf in die Gazastrook
# En krieket: Die Proteas maak skoonskip in die toetsreeks teen Zimbabwe
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi het herbevestig dat Suid-Afrika met Amerika skakel om handelsverbindinge te herstel na die wederkerige heffingsgeskil. Hy het teenoor SABC News beklemtoon dat deurlopende dialoog met sy Amerikaanse ampsgenote voortgaan ondanks presidensiële uitvoeringsbevele en tariefdreigemente. Godlimpi glo ‘n regverdige bepaling sal gesamentlik bereik word as die maatplaat eers voorsien is. Hy sê Suid-Afrika wil rasionele uitkomste hê, met wedersydse respek vir soewereiniteit, en internasionale handelsamewerking:
Solidariteit vra president Cyril Ramaphosa intussen om dringend op te tree om reuse-werksverliese te voorkom na Amerika se besluit om van volgende maand ‘n heffing van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere op te lê. Die vakbond sê die regering se gebrek aan optrede kan belangrike uitvoere belemmer en moontlik die voordele van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika prysgee. Theuns du Buisson van Solidariteit skryf dit toe aan politieke arrogansie en sê handelsbetrekkinge met Amerika geniet nie voorkeur nie:
# AgriSA het die opheffing van die beperkings op die beweging van vee in Limpopo en die Oos-Kaap verwelkom na die suksesvolle beheer van bek-en-klouseer-uitbrekings. Die Department van Landbou het bevestig dat meer as 144-duisend diere ingeënt is en melk van plase in kwarantyn mag nou na ‘n enkele pasteurisering verkoop word. Hoewel 76 plase in die Oos-Kaap onder kwarantyn bly, vra AgriSA volgehoue biosekerheids-waaksaamheid om die ekonomie, veebedryf en nasionale voedselsekerheid te beskerm.
Nuus uit die buiteland:
# Vyf Israelse soldate is dood in Gaza in een van die dodelikste dae vir Israelse magte in die Palestynse gebied vanjaar. Eerste minister Benjamin Netanyahu het erken dat dit ‘n moeilike oggend was met sy besoek aan Washington vir samesprekings met die Amerikaanse president, Donald Trump, wat druk uitoefen vir ‘n wapenstilstand in die oorlog van 21-maande. Die Israelse Weermag sê die vyf soldate was tussen 20 en 28, terwyl twee makkers ernstig gewond is. Israelse militêre korrespondente berig die ongevalle is veroorsaak toe tuisgemaakte ploftoestelle ontplof het.
# Krieket: Die Proteas het skoonskip gemaak in die reeks van twee toetse teen Zimbabwe toe hulle die tweede toets in Bulawayo met ‘n beurt en 236 lopies gewen het. Die besoekers het ‘n reuse-626 vir vyf in hulle eerste beurt aangeteken, aangevuur deur instaan-kaptein Wiaan Mulder se onoorwonne 367, waarna die gashere uitgeboender is vir 170. In Zimbabwe se opvolgbeurt was Nick Welch se 55 die hoogste telling. Die stertkant-kolwers het die Protea-boulers ‘n rukkie gefrustreer, maar die laaste paaltjie het geval met slegs 220 op die telbord.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-442-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….