Nuus 18:00
BULLETIN 3 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ondersoekbeampte van die Valke oorleef ‘n sluipmoordaanval wat na bewering deur Weermaglede beplan is
# Derduisende vliegtuigpassassiers word ontwrig weens ‘n staking deur Franse lugverkeerpersoneel
# En rugby: Owen Farrell word onverwags opgeroep na die Britse en Ierse Leeus in Australië
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het gehoor die Valke-speurder wat die ondersoek lei na die moord op ‘n kollega, Frans Mathipa, was in Desember self die teiken van ‘n sluipmoordpoging. Dertien Weermaglede word daarvan aangekla dat hulle die sluipmoord en die ontvoering van twee Ethiopiese burgers met bande met Isis beplan het. Mathipa is in Augustus 2023 doodgeskiet op die N1 naby Hammanskraal. Die beskuldigdes se identiteite mag nie bekend gemaak word nie, hangende ‘n uitkenningsparade, en die name van die ondersoekbeampte en die aanklaer mag nie gepubliseer word nie.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, waarsku dat onsekerheid oor Suid-Afrika se voortgesette toegang tot die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika duisende werksgeleenthede bedreig. Sy het in haar begrotingstoespraak in die Parlement gesê die verlies van voorkeurhandelstoegang tot die Amerikaanse mark sal sleutelbedrywe soos motorvervaardiging, staal, tekstiele en landbou ernstig raak, met baie van hierdie sektore wat jongmense, vroue en landelike werkers in diens neem:
Die metaalwerkersvakbond NUMSA het intussen bevestig dat Mercedes-Benz Suid-Afrika met ‘n geskeduleerde aflegging begin het by sy aanleg in Oos-Londen in die Oos-Kaap, van 24 Junie tot 30 Julie. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê dis deel van die jaarlikse produksieregstelling ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika en is nie gekoppel aan Amerikaanse handelsheffings nie. Sy sê werknemers sal steeds hulle besoldinging ontvang en opleiding ondergaan tydens die aflegging:
# Vandag se staking deur Franse lugverkeerpersoneel het die kansellasie van honderde vlugte tot gevolg gehad, wat derduisende passasiers gestrand het aan die begin van die somerseisoen. Frankryk se burgerlike lugvaartowerheid sê lugrederye moet hulle skedules hersien, insluitend vir een van Europa se besigste reisbestemmings, die Charles de Gaulle-lughawe in Parys. Die nuusagentskap AFP berig dat Europa se grootste lugredery, Ryanair, gedwing is om 170-vlugte vir vandag en môre af te las, wat meer as 30-duisend passasiers geraak het.
# Rugby: Die gewese Engelse kaptein, Owen Farrell, is onverwags opgeroep na die Britse en Ierse Leeus in Australië nadat die veelsydige agterspeler Elliott Daly sy arm gekraak het. Die 33-jarige het al drie keer saam met die Leeus getoer en is die seun van hoofafrigter Andy Farrell. Hy het die laaste van sy 112 toetse in 2023 se Wêreldbekertoernooi gespeel en het byna nege weke laas gespeel. Die losskakel is ‘n bewese toets-ster en sy pa het aangedui hy kan ‘n beseerde speler vervang toe die aanvanklike toergroep aangewys is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-320-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….