Nuus 18:00
BULLETIN 14 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bheki Cele beskryf die emosionele nadraai van Victoria Mxenge se sluipmoord
# Afrika word aangemoedig om ‘n wêreldmoondheid in vervaardiging te word
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie ontvang minder as helfte van die nodige befondsing teen Ebola
# Die oudminister van Polisie Bheki Cele het by die Waarheids- en Versoeningskommissie se ondersoek getuig die moord op die anti-apartheidsaktivis en regsgeleerde, Victoria Mxenge, was ‘n reuseslag vir die bevrydingstryd. Cele het getuig hy het by haar huis aangekom pas nadat sy vermoor is en haar liggaam was nog warm. Hy sê Mxenge se dood het wydverspreide betogings en weerstand teen apartheid ontketen:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika wil sy vervaardigingsektor laat groei om werk te skep en die ekonomie te versterk. Steenhuisen het tydens die opening van die 2026 Vervaardigingsindaba in Johannesburg gesê Afrika moet verby die uitvoer van grondstowwe beweeg en eerder meer waardetoegevoegde goedere produseer. Hy het bygevoeg sterker plaaslike vervaardiging en belegging is die sleutel om die vasteland as globale vervaardigingsentrum te vestig:
‘n Senior ondersoeker by die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie, Brian Padayachee, het bewerings ontken dat hy vertroulike polisiedossierinligting met generaal-majoor Feroz Khan tydens enige ondersoeke gedeel het. Padayachee het aan die Madlanga-kommissie gesê Khan is nie meer die persoon wat hy eens geken het nie. Hy het erken hy het lankal bedenkinge oor Khan gehad, en hy gesê daardie kommer was aanvanklik beperk tot vrae rondom Khan se vinnige bevordering binne Misdaadintelligensie, en nie weens huidige bewerings nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het minder as die helfte van die befondsing ontvang wat nodig is om die Ebola-uitbreking in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo te beveg. Die organisasie het aan Reuters gesê hy het sowat 40-persent van sy aanvraag vir 1,9-miljard-rand ontvang om die Bundibugyo-uitbreking te bekamp, waarvoor daar geen bewese behandeling of entstof bestaan nie. Regeringsdata toon minstens een-duisend-926 mense is besmet en 702 is dood. Die organisasie skat die werklike aantal gevalle in die DRK is minstens dubbel die amptelike syfer en dalk selfs meer as vier keer hoër.
# Rugby: ‘n Italiaanse slot is vir vier wedstryde geskors vir vuilspel in verlede naweek se Nasieskampioenskapswedstryd teen die All Blacks in Wellington. Niccolo Cannone se geelkaart vir ‘n kopstamp op die Nieu-Seelandse skrumskakel Cam Roigard is na hersiening opgradeer na rooi, waarna die Azzurri vir 20 minute met 14 spelers moes speel en uiteindelik 47-17 verloor het. Die kompetisie se vuilspel-hersieningskomitee het bevind die oortreding regverdig ‘n skorsing van ses weke of ses wedstryde, maar dis tot vier verminder as gevolg van versagtende omstandighede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-663-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 84-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….