Nuus 18:00
BULLETIN 2 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad waarsku verhogings in brandstofheffing sal landbousektor benadeel
# Die jurie beraadslaag oor ‘n aanklag van sameswering tot rampokkery teen Sean ‘Diddy’ Combs
# En kanovaart: ‘n Vyf-en-tagtigjarige deelnemer wil die rekord van 52 Bergrivier-marathons haal
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad waarsku verhogings in die brandstofheffing sal die landbousektor benadeel. Die raad sê 13-persent van die insetkoste is vir brandstof, en die verhoging sal produksie-, vervoer- en voedselpryse raak. Die raad sê ten spyte van ‘n kortingskema op diesel, sal kleinboere en landelike werkers die swaarste kry. Die raad versoek uitgebreide kortings, beter infrastruktuur en alternatiewe energie-beleggings om die bestaande druk te verlig.
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa sê die regering is gefokus om die totale vervoer-ekostelsel te herstel, insluitend paaie, spoor, lugvaart en maritieme veiligheid. Hlengwa het tydens die debat oor die Vervoerbegroting in die Parlement bevestig dat die departement daaraan werk om die Padongelukkefonds bestendig te kry en die lang-vertraagde padongelukkevoordeelskema bekend te stel. Hy het ook aangekondig dat die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe in Desember in 69 munisipaliteite in werking sal tree:
# ‘n New Yorkse jurie beraadslaag oor ‘n aanklag van sameswering tot rampokkery teen die musiekmagnaat Sean ‘Diddy’ Combs in sy federale sekshandelverhoor. Die jurie het tot ‘n besluit gekom oor vier van die vyf aanklagte teen Combs – twee van mensehandel en twee van die vervoer van mense vir prostitusie – maar ‘n dooiepunt bereik oor die sameswering tot rampokkery. Regter Arun Subramanian het jurielede aangespoor om voort te gaan met beraadslaging en hulle herinner om te hou by dit waarin hulle glo.
# Kanovaart: Jannie Malherbe van George hoop om die vier skofte tussen die Paarl en Velddrif van vandag tot Saterdag te oorwin om ‘n rekord-52ste Bergrivier-marathon te voltooi op 85-jarige ouderdom. Dit sal ‘n bittersoet prestasie wees, want sy goeie vriend Giel van Deventer, wat die huidige rekord van 51 saam met hom hou, is in 2022 tydens die Breërivier-marathon dood. Malherbe sê hy en Van Deventer het jare lank saam geroei, en hy het sy eerste kano aan hom verkoop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-863-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-11-sent per vat.
# En laastens, die Universiteit van die Wes-Kaap sê probleme met geestesgesondheid neem toe in Suid-Afrika, insluitend onder universiteitstudente. Professor Matete Madiba sê ondanks wydverspreide sielkundige probleme het slegs ‘n klein aantal studente toegang tot geestesgesondheidsdienste. Sy sê die meerderheid mense pas aan, organiseer, versorg en bou betekenis te midde van teëspoed en beperkings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….