Nuus 18:00
BULLETIN 1 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nkabane waarsku oor toenemende finansiële uitdagings namate Amerikaanse befondsing aan universiteite onttrek word
# Die DA beweer 200 vermiste prostaatkanker-pasiënte in Gauteng is moontlik dood
# En tennis: Die derde-gekeurde Jessica Pegula word uitgeboender in Wimbledon se eerste ronde
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, sê die sektor is onder finansiële druk nadat Amerikaanse befondsing aan 13 universiteite skielik afgesny is. Sy het in haar begrotingstoespraak in die Nasionale Raad van Provinsies gesê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sal vanjaar meer as 800-duisend studente ondersteun met ‘n begroting van 49-miljard-rand, wat volgende jaar tot 51-miljard-rand sal groei. Nkabane voeg by ‘n nuwe raad is besig om bestuursprobleme op te los en vertragings met betalings te beëindig:
Suid-Afrika het intussen meer tyd gevra om ‘n handelsooreenkoms met Amerika te onderhandel voor tariefverhogings van 31-persent volgende Woensdag van krag word. President Donald Trump se administrasie het die verhoging vir 90-dae uitgestel. Dit bedreig sleutel-uitvoere soos voertuie, staal en sitrus. Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, sê in ‘n verklaring Suid-Afrika probeer tariewe beperk tot tien-persent en bied aan om vloeibare aardgas van Amerika te koop in ruil daarvoor. Onderhandelings duur voort en amptenare vra die bedryf om geduldig te bly.
# Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het die DA se optrede in die regering van nasionale eenheid gekritiseer en as afpersingstaktiek beskryf. Holomisa het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gesê as hy president was, sou hy lankal die DA uit die regering verwyder het. Hy het hulle beskuldig dat hulle ooreenkomste verbreek. Holomisa bevraagteken die DA se weiering om aan die nasionale dialoog deel te neem en voer aan hulle is nie gereed om te regeer nie:
# Die DA in Gauteng beweer dat omtrent 200 prostaatkanker-pasiënte van die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal vermis word en moontlik dood is as gevolg van lang vertragings om bestraling te ontvang. Dit volg na ‘n geskrewe antwoord van die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, wat ‘n agterstand van 800 pasiënte bevestig, met baie van wie nie bereik kan word nie. Jack Bloom van die DA sê 250-miljoen-rand wat vir kankerbehandeling bedoel was, is nie gebruik nie. Hy moedig premier Panyaza Lesufi aan om Nkomo-Ralehoko af te dank vir ernstige nalatigheid.
# Tennis: Die derde-gekeurde Amerikaner Jessica Pegula is in Wimbledon se eerste ronde uitgeboender. Sy het in skoon stelle verloor teen die Italianer Elisabetta Cocciaretto, 82ste op die wêreldranglys. Coccioretto se beste vertoning in Grand Slam-toernooie tot dusver was die vierde ronde in verlede jaar se Franse Ope, terwyl sy in 2023 Wimbledon se derde ronde bereik het. Die oorwinning is haar tweede een oor ‘n top tien-teenstander in haar loopbaan ná sy die Tsjeg Petra Kvitova twee jaar gelede op Roland Garros verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-29-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….