Nuus 18:00
BULLETIN 26 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid word in hegtenis geneem
# Steenhuisen kritiseer Ramaphosa oor die afdanking van die DA-adjunkminister Andrew Whitfield
# En krieket: Jofra Archer keer terug na Engeland se toetsspan na ‘n afwesigheid van vier jaar
# Die hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid, Dumisani Khumalo, is op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Khumalo word aangekla van korrupsie rakende beweerde onreëlmatige aanstellings en plundering binne die afdeling. Dit volg na ‘n ondersoek oor die misbruik van staatsfondse en onwettige aanstellings. Volgens News24 word die saak nou deur die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek. Khumalo se inhegtenisneming kom te midde van voortgesette pogings om korrupsie binne die Misdaadintelligensie-eenheid aan te pak.
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het president Cyril Ramaphosa gekritiseer omdat hy Andrew Whitfield van die party as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging afgedank het. Hy voer aan Whitfield is verwyder omdat hy sy werk goed gedoen het. Steenhuisen het tydens die aanvaarding van die Wet op die Verdeling van Inkomste in die Parlement gesê die skuif is ‘n berekende aanval op die DA. Hy sê dit ontbloot dubbele standaarde, met ministers wat met korrupsie en staatskaping verbind word wat steeds in hul posisies is:
# AfriForum verwelkom die ondertekening van ‘n betekenisvolle erkennings- en samewerkingsooreenkoms met die kulturele gemeenskapshoof van die Bakgatla Ba Kgafela-owerheid in Noordwes, Kgosikgolo Kgafela Kgafela die Tweede, vandag in Kaapstad. Die ooreenkoms bevorder kulturele outonomie, selfvoorsiening, landbou-ontwikkeling en erfenisbewaring. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beklemtoon die noodsaaklikheid van gemeenskapsfederalisme om ‘n veilige, vrye en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe te verseker:
# Die Amerikaanse ekonmomie het in die eerste drie maande van vanjaar meer gekrimp as wat voorheen geskat is. Volgens die regering se data is verbruikersbesteding en uitvoere swakker as wat verwag is. Volgens die Departement van Handel het Amerika se bruto binnelandse produk in die eerste kwartaal met 0,5-persent gekrimp teenoor die vorige skatting van 0,2-persent.
# Krieket: Die snelbouler Jofra Archer is ingesluit in Engeland se groep vir die tweede toets teen Indië na ‘n afwesigheid van meer as vier jaar. Die 30-jarige bouler, wat gedurende sy loopbaan met beserings gesukkel het, het slegs 13 toetse gespeel – sy laaste in Februarie 2021. Sy laaste wedstryd vir Engeland was in Maart in ‘n eendagwedstryd teen Suid-Afrika gedurende die Kampioenetrofee-toernooi in Pakistan. Die tweede toets begin Woensdag op Edgbaston nadat Engeland die eerste een op Headingley met vyf paaltjies gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-59-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….