Nuus 18:00
BULLETIN 25 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa veroordeel die terugbetaling van onbestede fondse deur provinsies as verraad
# Dada Morero bly burgemeester van Johannesburg na die DA se mosie van wantroue misluk
# En Kaapstad se oorstromings vererger
# President Cyril Ramaphosa het die terugbetaling van onbestede diensleweringsfondse aan die Tesourie as verraad teen die mense bestempel. Hy het in die Nasionale Raad van Provinsies die swak besteding aan noodsaaklike infrastruktuur gekritiseer en gesê dit ondermyn die publiek se vertroue in die regering. Hy het wanbestuur, swak beplanning, en gebrekkige vermoë as sleutelkwessies uitgelig. Ramaphosa sê regeringsingryping, insluitend begrotingsmonitering en bystandspanne, is daarop gemik om munisipaliteite te versterk en beter dienslewering te verseker:
Die DA vra Ramaphosa intussen om die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, onmiddellik af te dank en beskuldig haar daarvan dat sy twee keer vir die Parlement gelieg het. Die party sê in ‘n ope brief sy het die Parlement mislei om haar rol met die aanstelling van ANC-kaders in die rade van Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede te verberg. Karabo Khakhau van die DA sê die minister het ook vals aangedui dat advokaat Terry Motau die keuringspaneel gelei het, wat hy ontken het.
# ‘n Mosie van wantroue teen die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het misluk. Honderd-44 raadslede het teen die DA se mosie gestem, 75 ten gunste daarvan en 43 het buite stemming gebly. ‘n Belangrike ANC-bondgenoot, ActionSA, het buite stemming gebly en gesê hy kan nie Morero se rekord verdedig nie. Die GOOD-party het gewaarsku indien die burgemeester verwyder word, sal onbestendigheid in die stad vererger. Morero bly dus in die amp danksy die steun van kleiner partye, ondanks toenemende oproepe vir beter bestuur.
# Die Stad Kaapstad reageer op oorstromings in verskeie gebiede, insluitend Parkwood, Imizamo Yethu, Hangberg en Overcome-hoogte. Vloedhulp-pakkies is aangevra in informele nedersettings soos Lwandle, Macassar en Khayelitsha. Die Ramprisikobestuur se woordvoerder, Sonica Lategan, sê twee kanale het oorstroom, wat wydverspreide verspoelings in strate veroorsaak. Sy versoek inwoners om hierdie gebiede en waterweë te vermy vir hul eie veiligheid:
# Sokker: Barcelona het sy langverwagte terugkeer na die nuwe Camp Nou aangekondig vir ‘n vriendskaplike wedstryd op 10 Augustus. Dit volg na jare se werk om die ikoniese stadion te vergroot en te moderniseer. Die Joan Gamper-trofeewedstryd sal slegs die stadion se gedeeltelike heropening vier. Barca het nog ‘n maand om die werk te voltooi nadat hy versoek het dat sy eerste drie La Liga-wedstryde elders gespeel word. Daar word verwag dat die projek in die somer van 2026 voltooi sal wees en dan 105-duisend toeskouers sal kan huisves.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-440-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-321-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….