Nuus 18:00
BULLETIN 20 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra dringende dialoog om die konflik tussen Israel en Iran te beëindig
# Minister Nkabane eis ‘n onmiddellike hersiening van Walter Sisulu Universiteit se sekerheids-protokolle na nog ‘n noodlottige skietery
# En krieket: Bavuma gaan die toetsreeks teen Zimbabwe misloop weens ‘n besering
# President Cyril Ramaphosa sê dringende wêreldwye diplomatieke pogings word benodig om die konflik tussen Israel en Iran te beëindig. Die president waarsku die voortdurende geweld eis lewens en benadeel die wêreld-ekonomie. Hy het gepraat tydens die Konstitusionele Hof se 30ste herdenking in Braamfontein, Johannesburg, en gepleit dat alle partye verdere lugaanvalle moet vermy en onmiddellik ‘n vreedsame oplossing moet vind:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, sê toenemende geweld by universiteite is kommerwekkend en kampusse moet veilig wees vir leer en groei. Dit volg nadat die adjunk-visekanselier van die Walter Sisulu Universiteit, Sinethemba Mpambane, gister op die Mthatha-kampus in die Oos-Kaap doodgeskiet is. In April is ‘n student, Sisonke Mbolekwa, tydens ‘n betoging doodgeskiet. Camagwini Mavovana van die ministerie sê Nkabane eis die onmiddellike hersiening van sekerheids-protokolle:
# Die politieke ontleder Michael Atkins sê meer openbare befondsing vereis strenger regulering, maar privaat skenkings kan interne party-demokrasie verswak. Hy het ‘n oorsig gedoen van die Verkiesingskommissie se simposium in Durban oor die befondsing van politieke partye. Atkins sê partye in plaaslike regering moet ook openbare befondsing ontvang. Hy vra ’n onafhanklike inspekteur-generaal om oortredings met betrekking tot befondsing te ondersoek, en om nie slegs op die OVK staat te maak nie:
TERUGAANKONDIGING: Hierdie berig is aan jou gebring deur die Nasionale Persklub
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma sal nie aan die Proteas se toetsreeks teen Zimbabwe deelneem nie as gevolg van die beenbesering wat hy gedurende die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië opgedoen het. Hy het nietemin 66 sprankellopies aangeteken in die tweede beurt en Suid-Afrika na ‘n oorwinning gelei. Die draaibouler Keshav Maharaj sal Suid-Afrika aanvoer in die twee toetse, wat albei in Bulawayo gespeel word. Die span vertrek Dinsdag, met die eerste wedstryd wat volgende Saterdag begin en die tweede die sesde van volgende maand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-676-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-26-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika is onder die 40 lande ter wêreld wat die minste vreedsaamheid ervaar, en is 124ste uit 163 nasies op 2025 se Wêreldwye Vredesaanwyser. TimesLive berig die aanwyser se jongste verslag dui aan toenemende geweld, politieke onbestendigheid en konflik veroorsaak sedert 2007 die grootste daling in wêreldvrede. Suid-Afrika het effens verbeter vanaf verlede jaar, maar is steeds ‘n mediumrisiko-land. Die wêreldwye kostes van geweld het verlede jaar byna 370-duisend-miljard-rand bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….