Nuus 18:00
BULLETIN 18 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Klein partye vra ‘n regverdiger verspreiding van partypolitieke befondsing
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement bevestig skoolplasings skep ruimte vir duisende plekke
# En Israel teiken Iran se militêre instellings
# Gemoedere het hoog geloop gedurende die openingsdag van die Verkiesingskommissie se Partypolitieke befondsing-simposium in Durban, met kleiner partye wat aandring op dringende hervormings oor hoe politieke befondsing toegewys word. Die tweedaagse geleentheid bring politieke organisasies bymekaar om die omvang en die doeltreffendheid van die Wet op Partypolitieke Befondsing te oorweeg. Die Nasionale Persklub berig die kleiner partye het kommer uitgespreek dat die huidige befondsingsmodel die groter, meer gevestigde partye oorweldigend bevoordeel, en kleiner organisasies sonder voldoende fondse laat om betekenisvol aan die demokratiese prosesse deel te neem.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het uitgevaar teen dreigemente teenoor die humanitêre groep Gift of the Givers in Mthatha in die Oos-Kaap. Hulle is blykbaar geïntimideer deur lede van die sogenaamde watermafia wat aan munisipale diensverskaffers gekoppel word, terwyl hulle skoon water aan vloedslagoffers gelewer het. Die onlangse oorstromings het 90 lewens geëis en honderde mense is dakloos gelaat. Die minister se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die polisie is ook ontplooi om plundering by slagoffers se huise te verhoed:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê kinders wat by meer as een skool aanvaar is vir plasings in Graad R-, 1- of 8 in 2026, is nou outomaties bevestig in hul voorkeur-skole. Die departementele woordvoerder, Millicent Merton, sê ouers en voogde het tot gister tyd gehad om die skole van hul keuse te bevestig, wat duisende plekke beskikbaar gestel het. Merton raai ouers aan om kontak met skole te behou indien bykomende plekke oopgaan:
# ‘n Reeks kragtige ontploffings is in dele van die Iranse hoofstad, Teheran, gehoor op die sesde dag van die konflik met die aartsvyand, Israel. Ten minste vyf rookwolke kon in die ooste en suidooste van die stad gesien word. Die Israelse Lugmag het bevestig hy tref tans militêre teikens wat aan die Iranse regime in die hoofstad behoort. In Israel is familielede van personeellede van die Britse ambassade in Tel Aviv en die konsulaat in Jerusalem as voorsorgmaatreël verwyder.
# Rugby: Owen Farrell is nie spyt dat hy Frankryk toe is nie, ondanks net een teleurstellende seisoen vir Racing 92 voor hy na Saracens teruggekeer het. Swak spelpeil en ‘n reeks beserings het beteken hy kon slegs 17 wedstryde in alle kompetisies speel. Die voormalige Engelse kaptein het oor 16-jaar 250 wedstryde vir Saracens gespeel voor hy aan die einde van die 2023/24-seisoen weg is. Hy sluit nou weer by Saracens aan vir twee seisoene. Hy het drie Europese Bekers en ses Premierskap-titels by die klub behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-180-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….