Nuus 18:00
BULLETIN 17 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Forex span is skuldig aan geldwassery in ‘n Ponzi-skema van 329-miljoen-rand
# Fast Guns-bendelede kry lewenslank vir die moord op ‘n Kaapstadse kleuter
# En krieket: Die wêreldkampioen-toetsspan land môre in Johannesburg
# Die Bellvillese Handelsmisdaadhof in Kaapstad het die hoof van Platinum Forex, Colin Davids, sy maatskappy en sy bemarkingsbestuurder, Derek Bredenkamp, skuldig gevind aan bedrog en geldwassery. Hulle het onwettig 329- miljoen-rand aan openbare fondse gewerf vir buitelandse valuta-handel, 87,5-miljoen-rand verloor, en opbrengste met nuwe deposito’s betaal. Die hof het bevind hulle het nie die nodige bedryfslisensies gehad nie. Die woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, sê vonnisoplegging hervat môre:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Carlo Hofmeester en Chadwin Isaacs van die Fast Guns-bende tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die vyfjarige Valentino Grootetjie in Lavender Hill, Kaapstad, in 2019. Die twee is ook gevonnis op verskeie aanklagte van poging tot moord. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê regter Melanie Holderness het bevind dat die mans geen berou getoon het nie:
# Die kripto-maatskappy Luno Africa sê digitale bate-riglyne in Suid-Afrika kan ten minste 540-miljoen-rand in bykomende belastinginkomste inbring indien dit bygewerk word. Hoofbestuurder Marius Reitz sê dit word bereken op slegs een-persent van die fondse wat in kripto-elektroniese fondsoordragte belê is. Reitz bepleit regulatoriese duidelikheid wat kripto-geldeenhede as bates binne die land se grense vestig. Hy beklemtoon dit sal beleggings aanmoedig en die invordering van kapitaalwinsbelasting verhoog, wat Suid-Afrika se oorspanne fiskus sal verlig.
# Die Suid-Afrikaanse Weermag sê wapens en toerusting wat soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo gebruik het, word tans terugbesorg. Dit volg ná ‘n gefaseerde onttrekking van soldate nadat ‘n wapenstilstand in die oorloggeteisterde oostelike DRK bereik is. Die Weermag se woordvoerder, Siphiwe Sangweni, sê die proses duur voort met ongeveer 80-persent van die toerusting wat van Goma na ‘n deurgangskamp in Tanzanië verskuif word:
# Krieket: Die Proteas kan ‘n helde-ontvangs verwag wanneer hulle môre met die goue staf van toetskrieket in Suid-Afrika aankom. Krieket Suid-Afrika het bevestig dat die toets-wêreldkampioen môreoggend 9.25 op die OR Tambo-lughawe in Gauteng sal land. Die groep het gister na Lord’s teruggekeer nadat hulle Saterdag die Wêreldtoetskampioenskap beklink het deur Australië met vyf paaltjies te verslaan. Die veelsydige Wiaan Mulder sê hy het nog nooit so ‘n viering beleef nie en bygevoeg dat die tuiste van krieket die beste plek was om dit te bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-363-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….