Nuus 18:00
BULLETIN 9 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onthul hoëronderwysinstellings skuld NSFAS 12-miljard-rand
# Johannesburg stel projek Lokisa bekend om miljarde rand se onbetaalde munisipale skuld te verhaal
# En tennis: ‘n Plaaslike vrou verbeter 296 wêreldranglysposisies na haar goeie vertoning in die Franse Ope
# Die DA sê universiteite en kolleges vir tegniese en beroeps-onderwys en -opleiding skuld die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema byna 12-miljard-rand. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het op ‘n parlementêre vraag onthul dat die skuld tussen 2017 en 2023 opgehoop het. Matlhodi Maseko van die DA dring daarop aan dat NSFAS verhaalde fondse moet gebruik om te verseker dat studente hulle toelaes betyds ontvang en om onttrekking van geldhulp in die middel van die jaar te vermy:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê Suid-Afrika moet herbesin oor sy onderwysstelsel en voorkeur gee aan vaardigheidsontwikkeling. Sy het tydens ‘n beleidsdialoog oor entrepreneurskaps-onderwys gepleit vir belyning met globale standaarde soos dié van Duitsland, waar leerders van jongs af voorberei word vir ‘n vaardigheidsgedrewe ekonomie. Die minister het beklemtoon dat fundamentele geletterdheid en syfervaardigheid steeds van kritieke belang is. Gwarube het die belangrikheid van ‘n toekomsgerigte, vaardigheidsgerigte leerplan beklemtoon om werkloosheid te verminder en vernuwende denke te skep:
# Die Stad Johannesburg het projek Lokisa van stapel gestuur om agterstallige munisipale skuld te verhaal. Ondernemings, duur eiendomme, staatsdepartemente en staatsbeheerde liggame sal geteiken en ontkoppel word. Die stad sal sy reëls oor eiendomsverkope verskerp om te verseker skuld word voor oordragte betaal. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, vra dat eiendomseienaars en ondernemings hul rekeninge vereffen of afbetalings reël om ontkoppelings en regstappe te vermy:
# Tennis: Die plaaslike speler Loïs Boisson, wat onverwags die halfeindronde van die Franse Ope gehaal het, het 296 plekke op die wêreldranglys geklim tot 65ste. Aryna Sabalenka van Belarus en die Amerikaner Coco Gauff is steeds in die eerste twee plekke nadat Gauff Sabalenka in die eindstryd verslaan het. Die driemalige verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, het twee plekke na sewende gedaal na haar halfeind-nederlaag teen Sabalenka. Zheng Qinwen van China is vyfde nadat sy die kwarteindronde in Parys gehaal het waar sy verlede jaar Olimpiese goud verower het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-586-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-322-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Iranse amptenare het ‘n polisiebevel van 2019 wat die stap van honde in die hoofstad Teheran verbied, uitgebrei na ten minste 18 ander stede. Owerhede verwys na openbare orde en gesondheids- en veiligheidskwessies. Honde-eienaarskap, die oortreding van Iran se verpligte hijab-wette, die bywoning van ondergrondse partytjies en drankgebruik is lank reeds vorms van ‘n stille rebellie teen Iran se teokratiese regime. Honde-eienaarskap neem toe ondanks pogings om dit te ontmoedig, veral onder jongmense. Amptenare het gewaarsku regstappe sal gedoen word teen mense wat die nuwe reëls oortree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….