Nuus 18:00
BULLETIN 6 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile belowe die Johannesburgse skoonmaakveldtog sal landwyd uitgebrei word
# Die vervoer-ministerie belê ‘n dringende vergadering met die Padongelukkefonds na die skorsing van die uitvoerende hoof
# En boere word versoek om vee te beskerm voor uiterste winter-temperature
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die Clean Cities and Towns-veldtog, wat in Kliptown, Soweto van stapel gestuur is, sal verder as Johannesburg uitbrei. Mashatile het by die Walter Sisulu-plein van Toewyding gesê die veldtog bevorder skoner, groener stedelike ruimtes en inklusiewe gemeenskappe. Hy beklemtoon die regering se doel is om met inwoners saam te werk en hul omgewing te verbeter:
# Die Ministerie van Vervoer sal Dinsdag met die raad van die Padongelukkefonds vergader. Dit volg op die voorlopige skorsing van die uitvoerende hoof Collins Letsaolo. Die Departement van Vervoer beplan ook om die Padongelukkevoordeelskema-wetsontwerp te finaliseer om dit vir slagoffers makliker te maak om voordele te eis sonder om duur regskoste aan te gaan. Die woordvoerder van die ministerie, Collen Msibi sê by die vergadering sal die raad se vermoë om bestuur te herstel en betyds vergoeding vir ongelukslagoffers te verseker, beoordeel word.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik oor gure weer hierdie naweek. Al die provinsies behalwe Limpopo kan swaar sneeu, koue temperature en sterk wind verwag. Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal mag dalk oorstromings ervaar as gevolg van swaar reën. Boere word versoek om hul vee te beskerm. ‘n Weervoorspeller, Kevin Rae sê Comrades Marathon-atlete kan vroeg Sondag warm weer verwag, met moontlike kouer en natter toestande later in die dag:
# Padwedlope: Tweemalige Comrades-marathonkampioen Tete Dijana soek hierdie naweek ‘n driekuns in die ikoniese, 90-kilometer ultramaraton nadat hy laasjaar gesukkel het. Verlede jaar se wenner, Piet Wiersma sal sy titel verdedig met die afwedloop van Pietermaritzburg na Durban. Onder die top aanspraakmakers in die mansafdeling is Joseph Manyedi, Dan Moselakwe en Edward Mothibi. Dijana het tydens ‘n mediakonferensie van die elite-atlete belowe om vorige foute reg te stel en die kroon terug te vat:
# Sokker: Die voormalige Engelse sokkerkaptein, David Beckham, kan glo tot ‘n ridder geslaan word. Koning Charles se verjaardag-eerbewyslys van die ontvangers word volgende week gepubliseer. Beckham is in 2003 met die Orde van die Britseryk bekroon. BBC Sport berig hy kom nou in aanmerking vir verdere erkenning vir beide sy sokkerloopbaan en sy bydrae tot die Britse samelewing. Die 50-jarige Beckham het in 2013 uitgetree nadat hy 115 keer vir sy land gespeel het en vir Manchester United, LA Galaxy, Paris St-Germain en AC Milan gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-353-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….