Nuus 18:00
BULLETIN 5 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die oudpresident van Zambië, Edgar Lungu sterf in Suid-Afrika
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die skorsing van ‘n onderwys-grootkop oor ‘n twee-miljoen-rand skootrekenaarskandaal
# En, die Gautengse portefeuljekomitee vir Landbou is bekommerd oor die uitbreking van bek- en klouseer in Heidelberg
# Die oudpresident van Zambië, Edgar Lungu wat tot 2021, bykans sewe jaar aan bewind was, is in die ouderdom van 68 in Pretoria dood. Volgens ‘n verklaring deur sy politieke party, die Patriotic Front, het Lungu gespesialiseerde mediese behandeling by ‘n kliniek in Pretoria ontvang. Hy het ‘n seldsame slukderm-siekte gehad wat veroorsaak word deur ‘n vernouing van die slukderm, en hy is in Suid-Afrika daarvoor behandel.
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die skorsing van die hoof van die Onderwysdepartement in Mpumalanga, Lucy Moyane, nadat ‘n forensiese verslag ernstige verkrygingsonreëlmatighede in haar departement blootgelê het. Die departement het na bewering twee miljoen rand bestee aan slegs 22 skootrekenaars, wat neerkom op 91-duisend-rand per rekenaar. Flip van der Walt van die vereniging waarsku dat meer senior amptenare betrokke kan wees, en vra vir dringende dissiplinêre stappe en kriminele klagte teen almal wat geïmpliseer word.
# Die Gautengse Wetgewer se portefeuljekomitee oor Omgewing, Landbou en Landelike Ontwikkeling het sy kommer uitgespreek oor die uitbreking van bek-en-klouseer by Karan Beef se voerkraal in Heidelberg. Daar is tans 120-duisend beeste by die voerkraal en slegs twee-persent is met die siekte besmet. Komiteevoorsitter, Jaco Mulder, loof Karan Beef vir hul vinnige optrede om belanghebbendes te waarsku en voorsorgmaatreëls te tref nadat die siekte opgespoor is:
# Cosatu verwelkom die Parlement se goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Ouer Persone wat nou vir ondertekening na president Cyril Ramaphosa verwys is. Die nuwe wetgewing sal die toepaslike owerhede in staat stel om ouer persone sonder ‘n hofbevel na tydelike veilige verblyf oor te plaas. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die vakverbond is al lank voorstanders van die belangrike wetgewing, wat verseker dat ouer persone in vrede kan aftree:
# Rugby: Die veelsydige Springbok- en Stormers-agterspeler, Sacha Feinberg-Mngomezulu, is gekroon as Suid-Afrika se Speler van die Seisoen in die Verenigde Rugbykampioenskap. Dis die 23-jarige, wat ook al ook al aangewys is as SA Rugby se Jong Speler van die Jaar, se tweede groot rugby-eerbewys. Lede van die media van al vyf VRK-nasies het opgetree as beoordelaars vir hierdie gesogte toekenning. Cameron Hanekom is aangewys as die Volgende Generasie-Speler van die Seisoen. Feinberg-Mngomezulu en Hanekom is ook, saam met Wilco Louw, André Esterhuizen, Jan-Hendrik Wessels, RG Snyman en Marnus van der Merwe, in die seisoen se Elite XV ingesluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-285-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….