Nuus 18:00
BULLETIN 2 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis John Hlophe is nie geskik vir die Regterlike Dienskommissie nie
# Gauteng Onderwys veroordeel die moord op ‘n leerder in Roodepoort
# En, meer as 300 verdagtes is die naweek in Gauteng gearresteer
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het beslis die Parlement het onregmatig opgetree deur die afgedankte regter en adjunkleier van die MK-party, John Hlophe, in die Regterlike Dienskommissie aan te stel. Die hof het beslis ‘n regter wat weens wangedrag verwyder is, kan nie vertrou word met die beskerming van regterlike integriteit nie. Hlophe is afgedank as regter omdat hy probeer het om twee regters van die Konstitusionele Hof te beïnvloed in ‘n saak wat verband hou met die vervolging van die voormalige president, Jacob Zuma. Hlophe en sy party is ook gelas om die regskoste te betaal weens hulle beledigende opmerkings tydens die verrigtinge.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het die wrede moord op die 14-jarige Likhona Fose, ‘n graad 8-leerder van die Ikusasalethu Sekondêre Skool in Braamfischerville, veroordeel. Likhona se verminkte liggaam is gister in Roodepoort gevind nadat sy Saterdag as vermis aangemeld is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Woordvoerder van die departement, Steve Mabona, sê trauma-ondersteuningdienste is na die skool ontplooi:
# Die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid het wetstoepassers geloof vir hul harde werk om gemeenskappe te beveilig nadat meer as 330 verdagtes die afgelope naweek tydens misdaadoperasies in hegtenis geneem is. Die arrestasies was vir misdade soos dronkbestuur, dwelmbesit en die onwettige verkoop van drank. Nege-en-sestig mense is in Ekurhuleni in hegtenis geneem, 96 in Tshwane, 80 in Sedibeng, 67 aan die Wes-Rand en 18 in Johannesburg. Die departement se woordvoerder, Offentse Morwane, sê die polisie tree streng op, veral teen dwelm- en alkoholverwante wandade.
# Tennis: Die derde gekeurde Alexander Zverev se plek is verseker in sy sewende Franse Ope-kwarteindstryd nadat sy Nederlandse teenstander, Tallon Griekspoor, in die tweede stel beseer is. Die Duitse Zverev, wat verlede jaar in die eindstryd teen Carlos Alcaraz verloor het, was met 6-4, 3-0 voor toe Griekspoor die stryd gewonne gegee het. Zverev sal óf teen Novak Djokovic óf Brittanje se Cameron Norrie te staan kom in sy poging om sy eerste Grand Slam-titel te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-156-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-45-sent per vat.
# En laastens, met die seisoenverandering van somer na winter verskuif die fokus van die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdiens. ‘n Oorsig van winterstatistieke vir die afgelope drie seisoene toon die aantal strukturele brande het van twee-duisend-129 in 2022 afgeneem tot een-duisend-748 in 2024. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê daar was ‘n toename van een-duisend-883 motorvoertuigongelukke in 2022 tot twee-duisend-147 in 2024:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….