Nuus 18:00
BULLETIN 26 Mei 6nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson bevestig regering se verbintenis tot infrastruktuur-gedrewe ekonomiese groei
# Salman Rushdie verwelkom die swaar vonnis van ‘n man wat hom met ‘n blinde oog gelaat het
# En rugby: Feinberg-Mngomezulu, Hanekom en Louw word benoem as Suid-Afrika se beste VRK-spelers
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die regering se verbintenis tot infrastruktuur-gedrewe ekonomiese herstel herbevestig tydens die Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling in Kaapstad. Hy het meer as 200 befondsde projekte in die jongste Konstruksieboek aangekondig, asook planne om 31 openbare eiendomme vir belegging vry te stel, om 165-duisend werksgeleenthede te skep. Macpherson het beklemtoon dat infrastruktuur die openbare belang en ekonomiese geregtigheid moet dien:
# Die kinderregte-aktivis Siyabonga Nzimande sê kulturele praktyke moet nooit kinders se regte oorheers nie. Dit volg nadat ‘n verslag van die KwaZulu-Natalse LUR vir Gesondheid, Nomagugu Simelane, onthul het daar was tussen April verlede jaar en verlede maand sewe-duisend-627 tienerswangerskappe in eThekwini. Dit sluit 154 meisies van tussen tien- en 14-jaar-oud in. Nzimande waarsku teen die gevaar van mishandeling, MIV en onveilige geboortes. Sy het tydens ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gevra vir dringende gemeenskapsgesprekke en die aanmelding van statutêre verkragtingsake:
# Die Stad Kaapstad het sy aansoektydperk vir seisoenale menseredders amptelik geopen. Aansoekers moet aan sekere vereistes voldoen. Dit sluit in kwalifikasies in menseredding en noodhulp, toetse vir misdaadrekords en dwelmgebruik, ‘n onderhoud waar van toepassing, en hulle moet ook ʼn swem- en reddingstoets slaag. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê aansoeke sluit op 9 Junie:
# Die beroemde skrywer Salman Rushdie is tevrede met die maksimum-vonnis van 25-jaar tronkstraf wat opgelê is aan ‘n man wat hom in 2022 met ‘n mes aangeval het by ‘n New Yorkse kultuursentrum. Hadi Matar is vroeër skuldig bevind aan poging tot moord en aanranding. Videomateriaal het gewys hoe hy op die verhoog storm en Rushdie met ‘n mes steek. Die aanval het Rushdie blind gelaat in een oog. Hy het verlede jaar die memoir “Knife” gepubliseer waarin hy die ervaring beskryf en ‘n denkbeeldige gesprek met Matar voer.
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu van die Stormers en Cameron Hanekom en Wilco Louw van die Bulle is vereer vir hul volgehoue goeie spelpeil gedurende die seisoen en as die drie benoemings aangewys vir die Suid-Afrikaanse Verenigde Rugbykampioenskaps-toekenning as Speler van die Seisoen. Stemming het Vrydag gesluit met die afrigtingspanne van die Springbokke en die vier Suid-Afrikaanse spanne, asook lede van die media wat hul stemme uitgebring het vir spelers van die vier plaaslike VRK-spanne. Die wenner sal op 5 Junie aangekondig word as deel van die jaarlikse VRK-toekennings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-752-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….