Nuus 18:00
BULLETIN 9 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê verwaarlosing het gelei tot die sluiting van Suid-Afrika-huis in Londen
# Die teen-korrupsie-deskundige, Albertus Schoeman, vra vir vinniger optrede teen staatsamptenare se onverklaarde welvaart
# En, die windenergie-sektor kan teen 2042 meer as 20-duisend werksgeleenthede skep
# Die DA sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het toegelaat dat Suid-Afrika se diplomatieke missies verval. Dit volg na die sluiting van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen. Ryan Smith van die party meen die historiese Suid-Afrika Huis het agteruitgegaan na jare van verwaarlosing, met personeel wat gedwing is om onder swak omstandighede te werk, met herstelkoste van byna 70-miljoen-rand:
# Die teen-korrupsie-deskundige Albertus Schoeman het aan die Madlanga-kommissie gesê Suid-Afrika behoort beslaglegging op bates sonder ‘n strafregtelike skuldigbevinding te oorweeg om onverklaarde welvaart doeltreffend te bekamp. Schoeman sê dit kan duur en tydrowend wees om misdaad te bewys, wat hulpbronne weghou van groot korrupsiesake. Schoeman stel voor finansiële verklarings moet gebruik word om onverklaarde bates op te spoor, wat vinniger optrede teen amptenare moontlik sal maak. Hy sê burgerlike of administratiewe maatreëls kan aanspreeklikheid versterk en ‘n afskrikmiddel teen korrupsie wees:
# Standard Bank se uitvoerende hoof vir Afrika-streke en Buitelandse Bedrywighede, Lungisa Fuzile, het Afrikaleiers en ondernemings versoek om die vasteland se uitdagings te omskep in geleenthede vir groei. Fuzile het op die Africa Unlocked 2026-konferensie in Kaapstad gesê die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, beleggings in infrastruktuur, energiesekerheid en kunsmatige intelligensie is uiters belangrik vir ekonomiese vooruitgang. Hy beklemtoon sterker handel en samewerking tussen Afrika-lande sal beleggings aanmoedig en ekonomiese veerkragtigheid in Afrika versterk.
# Suid-Afrika se windenergie-sektor kan teen 2042 sy arbeidsmag met tot 400-persent verhoog indien die beplande uitbreiding van hernubare energie voortgaan. Die wêreld se voorste windturbine-vervaardiger, Vestas van Denemarke, sê indiensneming in die bedryf kan groei vanaf drie-duisend-750 tot meer as 20-duisend werksgeleenthede. Die onderneming waarsku egter beleidsekerheid, ‘n voorspelbare verkrygingsprogram en groter netwerkvermoë is noodsaaklik om beleggings te lok. Die bedryf sê ‘n volgehoue vraag sal plaaslike vervaardiging, vaardigheidsontwikkeling en langtermynwerkskepping aanvuur.
# Sokker: Frankryk se hoofafrigter, Didier Deschamps, is nie bekommerd oor die aanstelling van slegs Argentynse skeidsregters vir vandag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Marokko in Boston nie. Die beamptes word gelei deur Facundo Tello. Die beheerliggaam is van partydigheid ten gunste van Lionel Messi en Argentinië beskuldig na hulle omstrede oorwinning van 3-2 oor Egipte in die ronde van 16. Deschamps sê hulle teenstander is Marokko en nie die skeidsegter nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-978-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….