Nuus 18:00
BULLETIN 20 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit dien klagte van laster in teen minister Ntshavheni
# KZN maak gereed vir skadelike wind soos kouefront provinsie tref
# En, Zelensky beskuldig Putin dat hy ‘leë koppe’ na onderhandelings oor wapenstilstand stuur
# Die vakbond Solidariteit het ‘n klag van laster teen minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, ingedien, Hulle eis ‘n verskoning vir wat hulle valse en skadelike beskuldigings noem. Ntshavheni het Solidariteit en AfriForum daarvan beskuldig dat hulle waninligting en selfs verraad versprei het tydens hul besoek aan die VSA. Solidariteit se Pieter Jordaan sê die beskuldigings is ongegrond en skadelik en waarsku dat versuim om te reageer tot verdere regstappe sal lei:
# Inwoners van KwaZulu-Natal word versoek om uiters versigtig te wees aangesien ‘n sterk en moontlik skadelike dwarswind môre in dele van die provinsie verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak twee-waarskuwing uitgereik. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê die wind kan die verkeer ontwrig, kraglyne beskadig en ‘n uitwerking hê op klein vaartuie en kusinfrastruktuur:
# SANParke het 42 olifante suksesvol vanaf die Addo Olifant Nasionale Park se hoofkamp na die Kabouga-gedeelte hervestig. Die stap is daarop gemik om eertydse olifant-deurgange en ekologiese balans te herstel. Die operasie is gelei deur kundige bewaringspanne, met die ondersteuning van die Global Humane Society. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die olifante sal noukeurig dopgehou word terwyl hulle gewoond raak aan hul nuwe tuiste. Hy sê dit sal ook bydra tot langtermyn bioverskeidenheid en die herstel van ekosisteme in die Oos-Kaap.
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het Rusland beskuldig dat hy vredesgesprekke vertraag in ‘n poging om sy drie-jaar-lange inval voort te sit, selfs al oefen die Amerikaanse president Donald Trump druk uit vir ‘n onmiddellike wapenstilstand. Trump het Maandag telefonies met Zelensky en die Russiese leier, Vladimir Putin, gepraat. Intussen het Russiese en Oekraïense amptenare Vrydag in Istanbul vergader vir hul eerste regstreekse gesprekke oor die oorlog in langer as drie-jaar. Hulle kon egter nie daarin slaag om ‘n wapenstilstand-ooreenkoms te bereik nie en Zelensky het Putin beskuldig dat hy “leë koppe” na die onderhandelingstafel gestuur het.
# Sokker: Amajita se hoofafrigter, Raymond Mdaka, het sy span en tegniese personeel geloof vir hul toewyding nadat hulle die Onder-20 AFCON-beker gewen het. Die span het Marokko met 1-0 in die eindstryd in Kaïro, Egipte, geklop, met Gomolemo Kekana wat die wendoel aangeteken het. Die span is vandag soos helde ontvang met hul terugkeer met die gesogte trofee. Mdaka het aan die media gesê verskeie spelers het top-toekennings gewen, wat ‘n nuwe hoofstuk vir Suid-Afrikaanse sokker aandui:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-495-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-277-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….