Nuus 18:00
BULLETIN 16 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kommissaris van die Inkomstediens vra verenigde optrede teen globale handelsuitdagings
# Cell C beplan toetrede tot die Johannesburgse Aandelebeurs te midde van groot herstrukturering
# En krieket: Ben Stokes hoop om weer te skitter met sy terugkeer na ‘n lang besering
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het die behoefte aan samewerking beklemtoon om globale handelsuitdagings in die kiem te spoor, insluitend onwettige handel en dwelmsmokkelary. Hy het op die Wêrelddoeane-organisasie se Oos- en Suider-Afrika-bestuursraad-vergadering in Pretoria gepraat. Afgevaardigdes het die 2025 tot 2028 Streek-strategie aangeneem om handelsvergemakliking en streeksamewerking te verbeter. Kieswetter vra die benutting van hulpbronne, bestendigheid en menslike kapitaal deur middel van belynde beleide en vernuwing:
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se pogings geprys met die hersiene nasionale begroting, bekend as Begroting 3.0. Steenhuisen het op die Nampo Oesdag in die Vrystaat die aanbieding as wonderlik beskryf en vordering met die proses verwelkom. Hy het die samewerkende benadering beklemtoon om ‘n geloofwaardige begroting op te stel wat daarop gemik is om beleggersvertroue en ekonomiese groei te bevorder. Die hersiene begroting sal na verwagting Woensdag in die Parlement ter tafel gelê word.
# Cell C kan dalk binnekort op die Johannesburgse Aandelebeurs noteer. Die meerderheids-aandeelhouer, Blue Label Telecoms, het planne aangekondig om die selfoonoperateur te herstruktureer met die doel om bedrywighede te verbeter en finansiële volhoubaarheid te verseker. Dit sluit in die omskakeling van skuld in ekwiteit en die oordrag van bates om die balansstaat te versterk. Dié stap word beskou as ’n manier om Cell C vir langtermyn-groei te posisioneer en beleggers groter insig in sy waarde te gee. Die notering bly onderhewig aan goedkeuring deur die direksie, aandeelhouers en regulerings-owerhede.
# Die DA in Limpopo eis die dringende vrystelling van die ondersoekverslag oor verlede maand se atletiek-fiasko in Bloemfontein in die Vrystaat, waar leerders tydens die SA Skole Atletiekkampioenskap op busse moes slaap en sonder kos was. Die verslag is steeds nie bekend gemaak nie, ondanks ’n openbare verskoning en ’n spertyd van ‘n maand wat premier Phophi Ramathuba beloof het. Franco Marx van die DA sê dié voortslepende stilte is onaanvaarbaar:
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, hoop om weer met die kolf en die bal te presteer wanneer hy na ’n operasie terugkeer. Die 33-jarige veelsydige speler was sedert Desember buite aksie nadat hy sy linker-agterkniesening geskeur het. Hy het ook die volgende maand ’n operasie ondergaan om ’n probleem reg te stel wat hom lank gepla het. Stokes sê hy het baie hard gewerk en glo hy sal liggaamlik in die beste moontlike toestand wees. Engeland maak gereed vir ’n besige somer, met reekse teen Indië en Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-862-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-180-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….