Nuus 18:00
BULLETIN 15 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê die nuwe Uitlewerings-wet sal Suid-Afrika belyn met internasionale misdaadprotokolle
# Die kabinet steun ‘n noodplan van 90-dae om geslagsgeweld en vrouemoord aan te pak
# En krieket: Rickelton en Markram sal Suid-Afrika se beurt open in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die nuwe Wetsontwerp op Uitlewerings sal Suid-Afrika belyn met globale misdaadbestrydingsprotokolle en internasionale samewerking versterk. Die kabinet het die konsepwetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur en sê dit sal die regering help om internasionale verpligtinge na te kom ten opsigte van die bekamping van georganiseerde misdaad, korrupsie en ander ernstige oortredings. Ntshavheni sê die bygewerkte wetsontwerp sal dit makliker maak om voortvlugtiges oor grense weg te stuur en te ontvang:
Die kabinet het ook ‘n noodplan van 90-dae goedgekeur om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp, wat gelei sal word deur agt voorkeurspanne. Dié spanne sal fokus op sleutelgebiede soos wetstoepassing, slagoffer-ondersteuning en gemeenskapsbetrokkenheid om gekoördineerde optrede te verseker. Ntshavheni sê die plan is daarop gemik om onmiddellike resultate te lewer met die versterking van voorkoming, die vermindering van geweld en die beveiliging van vroue:
# Eskom sê fase 2-beurtkrag sal tot 10-uur vanaand voortgaan, maar daarna word dit opgeskort. Eskom sê een-duisend-175 megawatt is reeds herstel sedert die begin van die week en ‘n verdere een-duisend-850 megawatt sal na verwagting teen môreaand herstel wees. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dié verbeterings en voldoende noodreserwes help om die netwerk bestendig te hou:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het afgevaardigdes en adjunkministers na Turkye gestuur vir vredesonderhandelings met Oekraïne en daarmee Kiëf se uitdaging verwerp om president Volodimir Zelensky te ontmoet. Putin het vroeër regstreekse onderhandelinge met Oekraïne in Istanboel voorgestel, en Zelensky het beloof om hom in te wag. Reuters berig Putin het die wêreld lank in die donker gehou oor sy planne voor die Kremlin ’n laervlak-afvaardiging aangekondig het wat Oekraïne se Europese bondgenote as ’n belediging beskryf. Dis steeds onduidelik hoe Oekraïne gaan reageer.
# Krieket: Ryan Rickelton sal Aiden Markram se aanvangsvennoot wees in volgende maand se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap tussen Suid-Afrika en Australië vanaf 11 Junie op Lord’s in Londen. Hoofafrigter Shukri Conrad sê die linkerhandse Rickelton se aanpasbaarheid teen naatboul-toestande gee die Proteas ’n groot voordeel op die Engelse kolfblaaie. Rickelton het sy plek verseker nadat hy in Januarie ’n dubbele honderdtal aangeteken het teen Pakistan op Nuweland. Conrad is nog onseker oor die rol van die voormalige aanvangskolwer, Tony de Zorzi, wat daardie wedstryd weens ’n besering misgeloop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-323-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-206-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….