Nuus 18:00
BULLETIN 14 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê die kragstelsel bly onder druk ondanks ‘n geringe verbetering
# AfriForum gee Ramaphosa die skuld vir die Afrikaner-uittog
# En rugby: Neethling Fouché is terug vir die Stormers na sy skorsing
# Eskom sê die kragstelsel bly onder druk, hoewel daar ‘n geringe verbetering in onbeplande onderbrekings is. Fase 2-beurtkrag sal vandag en môre voortduur tydens aandspitstye van 4-uur die middag tot 10-uur saans. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die maatreël is nodig om die vraag te bestuur en netwerkbestendigheid te handhaaf:
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa moet verantwoordelikheid aanvaar vir die groeiende emigrasie van Afrikaners, in plaas daarvan om hulle te beledig deur hulle lafaards te noem. Uitvoerende hoof Kallie Kriel sê Afrikaners word verdryf deur Ramaphosa se weiering om die ‘Kill the Boer’-kreet te veroordeel, sy ondersteuning vir die Wysigingswet op Basiese Onderwyswet en die Wet op Onteiening, en die gebruik van wat AfriForum diskriminerende rassewette noem:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het bevestig ‘n versoek om inligting oor passasierspoorweë sal binnekort vrygestel word. Sy het op die Afrika Spoor-konferensie in Sandton, Johannesburg, herbevestig die staat sal eienaarskap neem van spoorinfrastruktuur om prysbeheer te handhaaf. Creecy het ook ‘n spoorwegmeesterplan aangekondig as gids tot 2050 vir die ontwikkeling van vrag- en passasierspoorweë. Sy sê die hervormings is daarop gemik om beleggings uit die privaat sektor te lok:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het dringende voertuigherroepings aangekondig wat tophandelsmerke regoor Suid-Afrika raak. Jeep Wrangler- en Chrysler 300C-modelle van 2014 tot 2016 het gevaarlike Takata-lugsakgebreke. Citroën van 2009 tot 2016, Mercedes-Benz van 2020 en 2023, Audi vanaf Oktober 2021, Volkswagen sedert April 2025 en Volvo-modelle van 2020 tot 2022 word geraak deur rem-, battery- en veiligheidsgordelprobleme. Die kommissie sê dit hou ernstige gevare in, insluitend rem-mislukkings. Eienaars van hierdie voertuie word aangeraai om onmiddellik gemagtigde handelaars te besoek vir ondersoek en noodsaaklike herstelwerk.
# Rugby: Die vaskopstut van die Stormers, Neethling Fouché, is terug in die span ná ’n skorsing van drie-weke nadat hy ’n rooikaart ontvang het vir kopkontak in hul wedstryd teen Ulster. Sy aanvanklike skorsing van vier weke is tot drie verminder omdat hy ’n Wêreldrugby-afrigtings-ingrypingsprogram voltooi het. Fouché is nou beskikbaar vir die Stormers se laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd Vrydag teen Cardiff op die Kaapstad-stadion. Sy terugkeer is ’n groot hupstoot vir John Dobson se span, wat tans vyfde op die punteleer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-192-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-182-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….